Verklaring van ‘n aantal leraars en lidmate uit die Vrystaat
In die lig van die proses rondom die wysiging van Kerkorde Artikel 1 in die NG Kerk Vrystaat en die gevolglike posisie van diegene wat Belhar as Belydenis onderskryf, verklaar ons die volgende:
- Ons ondersteun die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van harte. Daarin maak ons ruimte vir mekaar, respekteer ons mekaar se oortuigings, vat ons hande en bou ons saam aan die eenheid binne die NG Kerk en die NG Kerkfamilie. Ons erken daarin die reg van mense wat om welke rede ook al nie die Belydenis van Belhar as belydenis onderskryf nie, maar maak ons ook ruimte vir hulle wat dit wel doen.
- In die verloop van die stem-proses rondom die wysiging van Kerkorde Artikel 1 het die vraag ontstaan of so ʼn “referendum onder lidmate” te rym is met ʼn proses van geloofsonderskeiding waarin Christus sy kerk deur sy Woord en Gees regeer, deur die vergaderinge van die kerk (ons gereformeerde verstaan en historiese praktyk van kerkregering). Ons spreek daarom ons ongemak uit oor die teologiese gefundeerdheid van die proses.
- Die uitslag van die stem-proses toon duidelik dat ʼn meerderheid Vrystaatse gemeentes nie bereid is om ruimte te maak vir “lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat die Belydenis van Belhar as in ooreenstemming met die Woord van God bely” Dit plaas ons wat wel die Belydenis van Belhar onderskryf in ʼn uiters moeilike posisie. Net so min as wat ons die NG Kerk as ons geestelike tuiste kan verlaat, net so min kan ons konformeer en ophou om die Belydenis van Belhar te onderskryf.
- Dit bring ons by ʼn beslissende moment waar ons nie anders kan as om openlik oor God Drie-enig se eiendomsreg op die kerk, die Bybelse eis tot eenheid, versoening en geregtigheid en ons gehoorsaamheid aan Jesus Christus as Here te bely en te getuig nie.
- Ons erken dat alle dokumente wat in ooreenstemming met die Skrif is, nie noodwendig belydenisskrifte word nie. Wanneer die waarheid van die evangelie egter in die samelewing op ʼn omvattende en skreiende manier verontagsaam word, bely ʼn gereformeerde kerk wat die kerk glo, en druk dit in ʼn belydenisskrif uit. In die vroeë 1980’s was die waarheid van die evangelie oor eenheid, versoening en geregtigheid op so ʼn omvattende wyse in ons Suid Afrikaanse samelewing in die gedrang, dat die NG Sendingkerk hulle gedronge gevoel het om te bely wat hulle glo. Dit was vir hulle ʼn kreet uit die hart. Oor dié waarheid van die evangelie het hulle in ʼn staat van belydenis gegaan; daaroor sou hulle nie weer kon swyg of swig nie. Daarom respekteer ons die diepe betekenis wat hierdie belydenis vir ons susterkerk het en ons vereenselwig ons daarmee.
- Ons oordeel dat die waarheid van die evangelie oor eenheid, versoening en geregtigheid in ons eie tyd en samelewing op nuwe maniere omvattend bedreig word – vgl. die onreg, geweld, korrupsie, gebrek aan respek vir lewe, plaasmoorde, diskriminasie teen en vervreemding van minderhede, onversoendheid, groeiende rasse-spanning, asook die onvermoë en skynbare onwilligheid van kerke in die NG Kerkfamilie om te herenig. Daaroor kan ons nie anders nie; ons is geroepe om nou weer ʼn helder profetiese stem te laat hoor. In die Belydenis van Belhar word dié evangeliese protes juis vanweë die historiese konteks daarvan klokhelder en geloofwaardig verwoord en aanvaar ons dit as geskenk uit ons susterkerk.
- Juis in ons eie tyd en konteks bly ons geroepe om sáám, as die één liggaam van Christus, met geloofwaardigheid te getuig. As ons dit nie doen nie en in ons kerklike afsondering volhard, sal die klippe dit uitroep! Daarom staan ons ootmoedig voor die Here aan wie die kerk behoort en bely en getuig ons, in die woorde van die Belydenis van Belhar – wat in ooreenstemming met die Skrif en ons ander belydenisskrifte is – oor die eenheid, versoening en geregtigheid wat God self aan ons skenk, en daarom ook van ons vra om in gehoorsaamheid te beliggaam en uit te leef. Ons doen dit met die vaste geloofsoortuiging: “Jesus Christus is Here!”
Eugene Barnard
Coen Bester
Gerhard Botha
Nico Combrink
Shaun Darker
Anneri du Toit
Danie du Toit
Jeanne Durand
Retha Durand
Kirna Hellmuth
Nelius Jordaan
Charles James
Hein Kotze
Francois Lamprecht
Deon Langenhoven
De la Harpe le Roux
Roelf Lindeque
Christo Louw
Jana Marx
Nico Mostert
Coenie Nolte
Frans Oosthuizen
Lindo Pieters
Daan Potgieter
Kobus Schoeman
Fanie Spamer
Barnard Steyn
Jean van Biljon
Carel van der Merwe
Nico van der Walt
Gideon van der Watt
Pieter van Straten
Danie van Tonder
Rikus van Zyl
Leon Venter
NAME BYGEVOEG NA VERKLARING IN KERKBODE:
Ingrid Herbst
Ilze Jordaan
Danie Kleynhans
Roelof Minnaar
Marlene Oosthuizen
Jors Reynders
Mariëtte Reyneke
Roelf Reyneke
Johann Smit
Maretha Steyn
Danie Strauss
Rene van der Merwe
Trackback from your site.
Comments (5)
Floris knouwds
| #
Ek sukkel soms om predikante te verstaan. Soos nou weer met “Groep35”. Selfs na ek hul verklaring verskeie kere deurgelees het, het dit my steeds ontwyk wat hulle nou eintlik wou sê. Daarom het ek maar agter die woorde en tussen die reëls probeer lees. En skryf ek vanuit hierdie halfgebakte waarnemings van my:
1. Skynbaar is julle ontevrede daaroor en kry julle julleself jammer dat alles nou nie geloop het soos julle dit wou hê nie. Maar julle sien ook nie kans om by julle oortuiging te staan en soos Luther te sê” Hier staan ek. Ek kan nie anders nie!” Want dalk kan julle inkomste in gedrang kan kom. Daarom sukkel julle om in hierdie beslissende moment ‘n beslissing te maak en daarop te handel.
2. Skynbaar voel julle dat julle nou nie meer die inhoud van Belhar kan verkondig nie. Maar julle kon nog altyd. En julle kan nog steeds. Want die NG Kerk is primêr gebou op die waarheid van die Woord. Die belydenisskrifte is sekondêr! En die Woord praat glashelder en klinkklaar oor versoening, geregtigheid en eenheid. Maar ek vermoed dat julle die “backing” van ‘n belydenisskrif gesoek het omdat julle nie kans sien om soos Luther julle stellings aan die kerkdeur te spyker (“no matter what”) nie.
3. Skynbaar dink julle dat daar net een manier is om die hartsroep van die VGK te respekteer en dit is om die Belhar belydenis ‘n deel van die belydenisgrondslag van die kerk te maak. Ek vermoed dis omdat julle nog nooit gaan sit en soek het na kreatiewe oplossings om ‘n wesenseenheid in die kerk te vestig – in plaas van ‘n organisatoriese eenheid nie.
4. Skynbaar dink julle nog (verkeerdelik) dat die stemming oor artikel 1net oor Belhar gegaan het. Wel, dit het nie! Dit het ook gegaan oor die verbreding van die basis van belydenisskrifte en die nuwe opsie van gerelativeerde (nou begin ek so geleerd soos julle klink, hê?) belydenisskrifte, dit is, belydenisskrifte met ‘n laer waarde wat aan jou keuse oorgelaat word. Dit het ook gegaan oor die indruk dat die proses eerstehandse lidmate (die wat Belhar aanvaar) en tweedehandse lidmate (die wat dit nie aanvaar nie, maar welkom is) in die kerk gaan skep. En as julle ‘n entjie verder gedink het, sou julle dalk ook (soos ek) teen die verandering van Artikel 1 gestem het. Maar om heel ander redes as wat julle blykbaar dink wat agter alle nee stemme lê.
5. Skynbaar reken julle dat ouens soos ek (wat nugter met hierdie goed wil omgaan) nie die nodige geloofsonderskeiding het nie. En/of dat die nodige teologiese gefundeerdheid by ons ontbreek. Daarom kan ‘n “referendum” nie werk nie. Maar, sê nou net die Heilige Gees is aan die kerk in sy geheel gegee… sou dit nie dalk beteken dat die Here ook op ‘n ander manier besig kan wees om met sy kerk te werk as die manier wat julle subjektiewe onderskeidingsproses voorskryf nie?
So: as julle (soos julle sê!) die beginsels van Belhar wil uitleef… Doen dit! Met volle oorgawe. Want dan sal julle dalk ontdek dat daar baie meer ruimte in die NG Kerk is as wat julle dink, dit is, ruimte om gelowiges in die gemeente te begelei om die waardes van eenheid, versoening en geregtigheid orals in hulle lewens te vergestalt. En as julle dít kan regkry, sal julle (sonder Belhar) ‘n werklike bydrae maak wat die kerk van Christus dien. Soos julle sê dat julle graag wil.
So, ek is jammer. En ek wou maar net laat weet: Nee dankie, Ek sal nie my naam by julle lys voeg nie. Ek sal eerder voortgaan om die ouens rondom my te konfronteer met die Bybel se eise vir praktiese eenheid, versoening en geregtigheid. En hulle help om dit ‘n werklikheid te maak – orals waar hulle in hierdie wêreld beweeg.
Reply
Dania vd Walt
| #
So dankbaar dat daar mense is wat die moed van hulle oortuiging het om ruimte te skep vir almal. Ek prys die Here daarvoor
Reply
Andre Smuts
| #
Ek wil graag my naam byvoeg. Hoe gaan ek te werk?
Reply
Webmeester
| #
Jy kan dit op die oomblik net in die kommentaar ruimte doen. Ek sal hoor of daar ‘n sentrale punt is waar name bygevoeg kan word.
Reply
Webmeester
| #
As jy jou naam wil byvoeg by dié lys, kan jy ‘n e-pos stuur aan Carel van der Merwe (klik net op hierdie skakel).
Reply