dien thoai di dong , dau gia , the gioi smartphone , download game mobile , smartphone , tang truong , khoa hoc cong nghe thong cong , mua ban sim , Smartphone gia re , cong nghe tuong lai , cong nghe 360 , giai tri guongmat.org , su kien trong ngay , thoi trang hi tech , thong tin 360 , may tinh bang , perfect body , kasuman.com , gia vang hom nay , tin tuc an toan , kinh te viet nam , xay dung viet nam , thoi trang , thoi trang , phu nu viet nam , tin tuc moi online , dich vu bao ve viet nam , bao ve viet nam , cong ty bao ve viet nam , tin tuc moi online , giai tri 24h , tin tuc 24h

Vrae en antwoorde – Ben du Toit

Written by Webmeester on . Posted in Ander bydraes

Print Friendly
Die kritiek wat gewoonlik teenoor Belhar uitgespreek word, het hoofsaaklik met twee sake te doen. Die een gaan oor die aanvaarbaarheid van die Belydenis van Belhar as ’n belydenisskrif (met ander woorde voldoen dit aan die kriteria vir ’n belydenisskrif?) Tweedens gaan dit op een of ander manier oor die kritiek dat die Belydenis van Belhar met twyfelagtige politieke motiewe op die NG Kerk afgedwing word.

Hoewel die vrae dus op verskillende maniere geformuleer word, is die antwoorde daarop dus meestal oorvleuelend van aard. Begrip is dus nodig vir die feit dat hier baie herhaling in die antwoorde voorkom.

Vraag 1: Is die Belydenis van Belhar regtig ‘n belydenisskrif? Maw, voldoen dit aan die kriteria vir ‘n belydenisskrif?

Antwoord: Hierdie is een van die sake wat die meeste opgehaal word as kritiek teen die aanvaarding van die Belydenis van Belhar as ‘n belydenisskrif vir die NG Kerk. Die vraag kom in verskillende gestaltes en formuleringe voor. Hierdie vraag veronderstel dat daar iewers kriteria of riglyne bestaan waaraan ‘n geskrif gemeet behoort te word om te bepaal of dit as ‘n belydenisskrif slaag of nie. Asof die kerk iewers, lank gelede in die geskiedenis oor sodanige kriteria ooreengekom het.

Die feite is egter dat daar geen sodanige kriteria of riglyne bestaan nie. Op geen stadium in die kerk se geskiedenis is daar ooreengekom oor sulke riglyne waaraan ‘n belydenis getoets behoort te word nie. Gewoonlik word daar ter ondersteuning van hierdie kritiek teen Belhar onderskei tussen die struktuur en inhoud van ‘n belydenisskrif – dat daar ‘n kriterium vir eenvormigheid is in terme van struktuur en inhoud. Ook dat ‘n belydenis oor kernwaarhede gaan, wat van ewigheidswaarde is en dat die Belydenis van Belhar nie hieraan voldoen nie.

  1. Struktuur: Wanneer ons na die Drie Formuliere van Enigheid (Die Dordtse Leerreëls, Heidelbergse Kategismus en Nederlandse Geloofsbelydenis) kyk, wat die belydenisgrondslag van die NG Kerk is, dan sien ons hoegenaamd geen eenvormige struktuur nie. Inteendeel.

Die Dortse Leerreëls bestaan uit vyf (5) “Leerstukke” wat elk in verskeie paragrawe aangebied word. Die eerste deel van elke Leerstuk (of Leerreël) bied positiewe punte aan om die bepaalde leerstuk te omskryf. Daarop volg ‘n negatiewe deel wat weer die dwaling van enige verwerping van hierdie bepaalde leerstelling onder verskeie punte tot uitdrukking bring.

Die Heidelbergse Kategismus bied ‘n “Onderwysing in die Christelike Leer” in die formaat van 52 Sondags-afdelings. Die bedoeling daarmee was dat die gemeentes elke Sondag van die jaar die betrokke vraag (of vrae) en antwoord (of antwoorde) by daardie Sondag in die erediens sal behandel. Dit kom dan ook met Skrifbewyse vir elkeen van die 129 antwoorde wat deur die jaar deur die gemeente in behandeling geneem kan word. Daar is ook sommige weergawes wat nie die Sondag-indelings toon nie.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis bied weer sy uiteensetting van die Christelike geloof in 37 paragrawe of Artikels aan met ‘n eie unieke volgorde van sake wat aan die orde gestel word.

Wat struktuur betref, is daar dus hoegenaamd geen ooreenkoms tussen die Drie Formuliere van Enigheid nie. Enige sodanige kriteria vir die status van ‘n Christelike geloof-dokument om as belydenis te kwalifiseer, bestaan dus in praktyk hoegenaamd nie.

  1. Inhoud: Wanneer ons na die inhoud van die Drie Formuliere van Enigheid kyk, sien ons ook absoluut geen eenvormigheid nie. ’n Mens kom dan ook agter dat hierdie drie dokumente elk ‘n eie geskiedenis van ontstaan gehad het, ‘n eie konteks waarbinne hulle ‘n bepaalde waarheid van die Evangelie (Bybel) wou/moes weergee – ook en juis as ‘n teenvoeter teen dwaling, maar ook as ‘n samebindende belydenis van die Gereformeerdes teenoor die Rooms-Katolieke en Wederdopers. Ook kom dit uit ‘n eiesoortige politieke konteks, soos ook weerspieël uit (byvoorbeeld) die inhoud van die Nederlandse Geloofsbelydenis.

Die Dordtse Leerreëls kan eintlik beskou word as die enigste oorspronklike dokument wat in 1618/19 deur die “Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerk van die Verenigde Nederlande” wat in Dordrecht hou is, opgestel is. Die ander twee het alreeds lank voor hierdie sinode elk ‘n eie en unieke geskiedenis beleef en is voor die sinode gelê vir goedkeuring en aanvaarding. Die Dordtse Leerreëls hanteer dan die vyf leerstukke waaroor daar vooraf in die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande verskille ontstaan het. Die temas is baie spesifiek en probeer nie om die hele Christelike leer weer te gee nie. Dit gaan oor die uitverkiesing, die dood van Christus en die verlossing van mense deur sy dood, die mens se verdorwenheid en bekering tot God en (laastens) die volharding van die heiliges. In geheel kan dit gesien word as ‘n reaksie op dwaalleer van daardie tyd.

Die Heidelbergse Kategismus probeer met sy inhoud sover as moontlik die hele Christelike geloofsleer dek. Dit word gedoen aan die hand van vrae en antwoorde wat in 52 Sondags-afdelings aangebied word. Die dokument bestaan in hoofsaak uit drie gedeeltes. Na ‘n kort inleidende paragraaf, gaan die eerste deel oor “Die Mens se Ellende.” Die tweede gedeelte gaan oor “God die Seun en ons Verlossing.” Die derde deel gaan oor “God die Heilige Gees en ons Heiligmaking.” In kort: Sonde, verlossing en dankbaarheid. Inhoudelik verskil dit ook van die ander twee deurdat dit by elke antwoord Bybelverse aandui van waaruit die antwoorde afgelei is.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis verskil weer inhoudelik totaal en al van die ander twee. Dit begin met ons belydenis dat “daar ‘n Enige God is” en hoe hierdie God geken kan word. Dit bring ons by die Bybel en hoe die Bybel ontstaan het en hoe die inhoud/samestelling daarvan lyk. Heelwat ruimte word afgestaan aan die aard, inhoud en gesag van die Heilige Skrif (altesaam vyf paragrawe: Artikel 3-7). Daarna volg twee paragrawe oor die Drie-enige God (Artikel 8-9), dan oor Jesus en die Heilige Gees en dan oor God as Skepper. Aan die twee nature van Christus word twee artikels gewy. En so sou ’n mens kon voortgaan. Geheel en al anders as die ander twee se inhoude.

Wie dus in terme van inhoud (en struktuur) van die Drie Formuliere van Enigheid kriteria sou wou aantoon waaraan ‘n geskrif behoort te voldoen vóórdat dit as ‘n belydenisskrif “geklassifiseer” kan word, sou dit (sodanige kriteria) baie onwaarskynlik vind. Alhoewel al drie belydenisskrifte vir die kerk ‘n bepaalde fokus gee op die leer van die Christelike geloof, is daar feitlik geen ooreenkoms in struktuur en inhoud van hierdie drie belydenisskrifte nie.

Die argument, dus, dat die Belydenis van Belhar nie voldoen aan die kriteria of riglyne vir ‘n belydenisskrif nie, gaan hoegenaamd nie op nie. Dit berus op ‘n aanname oor iets wat nie bestaan nie.

Wat ‘n belydenisskrif wel as ‘n belydenisskrif laat kwalifiseer, sal verder behandel word by vraag 3 hieronder.

Deel van die beswaar hier genoem (Belhar wat nie aan die vereistes vir ‘n geloofsbelydenis sou voldoen nie – of, soos dit ook gestel word: Belhar beantwoord nie aan die eiesoortige vereistes vir ’n gereformeerde konfessie nie), is dat hierdie belydenis nie oor kernwaarhede van die Bybel gaan nie. Hierdie beswaar moet egter met die grootste stelligheid as onwaar verwerp word, bloot en eenvoudig uit die inhoud van die belydenis self.

Hoe kan ‘n Christen beweer dat die versoenende werk van Jesus Christus nie tot die kern van die Evangelie behoort nie? Of dat geregtigheid nie ‘n sentrale waarheid in die hele Bybel is nie? Sien hiervoor ook die beredeneringe by 2.3 en 2.4 in die deel hierbo (Belhar en die Bybel) waarin die fokus van die Bybelse boodskap op hierdie teologiese waarhede in Belhar behandel word.

Dit behoort vir enigeen wat die Bybel ernstig opneem duidelik te wees dat, indien die versoeningsboodskap van Jesus Christus nie as ‘n blywende, kernwaarheid van die Evangelie beskou word nie, of die oproep tot die toepassing van geregtigheid deur die kerk op grond van Gods geregtigheid nie as ‘n ewige, sentrale waarheid van die Christelike boodskap gesien word nie, dan met reg gevra kan word: wat is dan die ewige, sentrale kernwaarheid van die Bybel? Diegene wat hulleself in hierdie opsig téén die Belydenis van Belhar as belydenisskrif uitspreek, kla hier oor ‘n horisontale (mens tot mens) oordrywing van die versoeningsboodskap. Dan moet ‘n mens net die Nuwe-Testamentiese boek Jakobus van begin tot end deurlees om te verstaan dat ‘n vertikale versoening (tussen God en mens) sonder die praktiese, sigbare uitwerking daarvan in die kerk en samelewing (tussen mens en mens), valse geloof (versoening) is. Dan moet Jesus ook van horisontalisme beskuldig word (sien weer Lukas 4:16 en verder). Dan moet ons ook wonder oor die tweede gebod van liefde teenoor die naaste, wat gelykstaande is aan die eerste gebod: liefde tot God. Is hierdie Skrifwoord dan nie waar nie?

‘n Aanhaling uit Jakobus is dalk hier van toepassing: “Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red? Sê nou daar kom ‘n broer of suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly en sê nou een van julle sou vir hulle sê: Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg, maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.” (Jakobus 2:14-17)

Vir enigeen wat die Christelike geloof in diepte ondersoek en bestudeer, behoort dit glashelder duidelik te wees dat die Belydenis van Belhar bepaalde waarhede van die Evangelie omskryf waarsonder ons in ons konteks nie kan nie. Indien dit nie deur die Christelike gemeenskap aanvaar word nie, bring die afwesigheid daarvan ons inderdaad tot ’n staat van belydenis (status confessionis). Met ander woorde: die ontkenning van die kernwaarhede van die Belydenis van Belhar in ons tyd, bring die sentrum van die Christelike boodskap in gedrang – en as sodanig is dit ‘n tydige uitbreiding (aanvulling) van die Drie Formuliere van Eenheid in die unieke konteks van die moderne Suid-Afrika – maar sekerlik ook oral in alle dele van die wêreld waar daar vyandskap, twis en geweld is; oral waar die menswaardigheid van mense misken en op allerhande maniere deur owerhede en maghebbers teenoor minderes geweld gepleeg word. Dit raak nog veel erger as die kerk sigself ook daaraan skuldig sou maak.

Vraag 2: Is die Belydenis van Belhar nie ‘n politieke geskrif gemotiveer vanuit die Teologie van Revolusie (Politieke Teologie, of Bevrydingsteologie) nie?

Antwoord: Reaksie op ‘n vraag soos hierdie sou bepaal word deur die definisie wat die vraesteller van ‘n begrip soos “politieke teologie” het, of “politiek” as sodanig. Dikwels is daar agter ‘n vraag soos hierdie die veronderstelling dat daar iets soos ‘n neutrale teologie is, of selfs ‘n “suiwer” Bybelse teologie. Daar word nie mee rekening gehou dat alle teologie, alle dokumente wat geloof tot uitdrukking bring, alle belydenisskrifte ‘n bepaalde (histories-politiese) ontstaanskonteks het wat verreken moet word in die vertolking van daardie geskrif nie.

Byvoorbeeld, ook die Drie Formuliere van Enigheid dra die merktekens van hulle ontstaanstyd. Neem byvoorbeeld Artikel 36 van die NGB as voorbeeld. Daar staan onder andere oor die staat:

“En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die Antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord van die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel. Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense ingestel het, versteur.”

Hieroor (spesifiek Artikel 36 NGB) het die Algemene Sinode van die NG Kerk in 2002 besef dat ons in ons vertolking van die geloofsbelydenisse moet onthou

“…dat die belydenisskrifte historiese dokumente is wat op meer as een manier die merktekens van die tyd waarin hulle ontstaan het, vertoon, en dat dié feit vir sommige in die kerk ‘n struikelblok kan wees om hulle in die huidige omstandighede heelhartig te onderskryf.”

Maar tog…

“dat ons besef dat die NGB Art 36 in ‘n totaal ander konteks met betrekking tot die verhouding tussen kerk en staat opgestel is. Tussen ons en die 16e eeu lê die Verligting wat meegebring het dat daar in die moderne tyd ‘n onvermydelike skeiding tussen kerk en staat tot stand gekom het, waaragter ons nie terug kan gaan nie. Die kerk kan nie vandag meer van die staat verwag om op ‘n direkte manier “die ryk van die Antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder nie.” Desnieteenstaande kan die kerk steeds, op grond van die Skrif, van die owerheid verwag om die publiekregtelike ruimte te skep vir die kerk, ten einde die kerk in staat te stel om die eer van God ook op staatkundige terrein te soek. Die saak waarom dit in Artikel 36 gaan, geld in elk geval vandag nog net soos destyds, naamlik dat alle owerhede onder die oppergesag van God staan.”

Soos vroeër in die hermeneutiese beoordeling van die Belydenis van Belhar gestel was, praat hierdie belydenis nie meer of minder politiek as die Bybel self nie (sien weer in hierdie verband die gedeelte oor die derde artikel van Belhar 2.4). Wanneer Jesus sy bediening begin en die eerste maal in Nasaret, sy tuisdorp, preek, haal hy aan uit Jesaja 61 wat verwys na die volk in ballingskap en die belofte dat daar vir hulle verlossing/bevryding is:

“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Wie enigsins sou wou ontken dat hierdie nie duidelike beloftes rondom sake van politieke aard is nie, doen die status en gesag van die Bybel as Woord van God ‘n oneer aan.

Direk op die Belydenis van Belhar van toepassing beteken dit dat dit, net soos die NGB (en net soos die Bybel en spesifiek Lukas 4) “historiese dokumente is wat op meer as een manier die merktekens van die tyd waarin hulle ontstaan het, vertoon” (sien hierbo NG Kerk se besluit van AS, 2002). Hierin erken ons die histories-politiese konteks van Apartheid-Suid-Afrika in die Belydenis van Belhar.

Maar, net soos met die ander belydenisskrifte (en die Bybel self), beteken dit nie dat hierdie dokumente (en selfs die Bybel) daarom as “politieke teologie” afgeskryf behoort te word nie. Eerder moet daarin gesien word hoedat die Evangelie (goeie nuus) van die Jesus as Verlosser ook direk ‘n invloed het op die wyse waarop ons alle mense verstaan as beelddraers van God, in watter konteks ook al. En dit is waarom ons alle faktore wat die Godwaardigheid van mense op watter manier ook al aantas (armoede, verdrukking, onderdrukking, diskriminasie op grond van natuurlike faktore), in die Naam van die Here behoort teen te staan. Die kerk behoort daarteen as deel van sy profetiese taak met woord en daad op te tree.

Uit ons bespreking van die derde artikel van die Belydenis van Belhar by punt 2.4 hierbo, blyk dit dat, indien ons hierdie geskrif wil afskryf op grond van sy relevansie vir die politiek van sy dag, ons dit dan ook behoort te doen met die ander belydenisskrifte – en selfs die Bybel as sodanig.

Vraag 3: Kan dit nie liewer as ‘n Standpunt-dokument (soos Kerk en Samelewing) gesien word nie? Hoekom nou ‘n belydenis-dokument (of belydenisskrif)?

Antwoord: Wat sou die motief wees om dit liewer as ‘n standpunt-dokument te hanteer en nie as ‘n belydenis-dokument nie? Die mees waarskynlike antwoord hierop is seker dat mens dit dan krities kon beskou sonder om jouself daarmee te vereenselwig. Anders, wat sou die bedoeling daarmee wees? Dikwels gee kritici teenoor die aanvaarding van die Belydenis van Belhar toe dat daar teologies (Bybels) geen fout met die dokument gevind kan word nie, maar dit moet net nie ‘n belydenis wees nie. ’n Mens sou dan kon vra of so ‘n posisie logies sin maak.

Tensy dit iets te doen het met die geskiedenis van Belhar. Tensy dit iets te doen het met die feit dat die Belydenis van Belhar, saam met die status confessionis gesien, steeds nog op ‘n manier seermaak as ‘n beskuldiging van dwaling aan die kant van die NG Kerk. Maar, dit het die NG Kerk al meer as eenmaal self, amptelik erken, dat hy skuldig was aan sodanige dwaling. Kerk en Samelewing van 1986 erken dit alreeds. Indien dit dus nog steeds oor hierdie “seer” van die NG Kerk-lidmate oor die beskuldiging teen hulle sou gaan (dat daar in sommige se geledere teen Belhar ‘n weerstand is wat tot allerhande ongeldige beredeneringe en besware lei), kan mens waarskynlik met reg vra:

  • Verstaan hulle werklik wat die pyn van apartheid vir mede broers en susters beteken het?
  • Het hulle werklik begrip van wat dit is/was om op grond van jou velkleur toegang tot werk, woon, huwelik, liefde, besigheid, sport, ens geweier te word? Dit alles in die Naam van God.
  • Besef hulle dat as die wesentlike kwaad/sonde van apartheid as ‘n on-menswaardige sisteem wat mense in hulle integriteit aantas nie deur die NG Kerk erken word in die aanvaarding van die Belydenis van Belhar nie, daar nie versoening moontlik is nie?

Indien hierdie dokument dus nou as ‘n belydenisskrif deur een van die NG Kerkfamilie-lede na ons toe kom, vanuit diegene wat die lyding deurgemaak het, is dit nie vir ons om oor die status daarvan te besluit nie. ‘n Mens sou jou selfs oor die arrogansie van so ‘n houding kon verbaas. Vir die NG Sendingkerk (en later/nou) die VGKSA is dit ‘n belydenisskrif – is dit deel van hulle belydenisgrondslag. Vir ons om dit nou te wil “af-gradeer” na ‘n standpunt-dokument kan nie anders nie as uiters ongevoelig ervaar word deur diegene wat aan die ontvangkant van die apartheidsbeleid met hulle Christelike geloof moes worstel.

Dikwels word die NG Kerk (Algemene Sinode) se besluit van 1998 misbruik om die status van Belhar as belydenisskrif te betwyfel. Toe het die sinode besluit: “Terwyl die beoefening van teologie altyd tydgebonde, feilbare mensewerk is, het ons in die kerklike belydenis met meer as net die akademiese menings van teoloë te make. In die belydenisskrifte herken ons die algemene ongetwyfelde Christelike geloof, soos die kerk dit op grond van die Skrif bely.” (Besluiteregister AS 1998 11.1.3)

Kerk en Samelewing sou byvoorbeeld gesien kan word as so ‘n “akademiese mening van teoloë” wat dan as standpunt/besluit van ‘n kerkvergadering oorweeg kan word. Daar’s ‘n groot verskil tussen standpunt-dokumente soos Ras en Volk en Nasie in die lig van die Skrif en Kerk en Samelewing en So glo Ons (aan die eenkant) en ‘n geloofsbelydenis soos Belhar en die Drie Formuliere van Eenheid (aan die ander kant).

Waarskynlik is die grootste verskil tussen so ‘n standpunt dokument en ‘n belydenisskrif, dat laasgenoemde ontstaan in ‘n krisis-uur waar die waarheid van die Evangelie op die spel is/was en waar ‘n geloofsgemeenskap tot die oortuiging gekom het dat ‘n bepaalde openbare getuienis van die waarheid van hulle geloof noodsaaklik en bepalend is vir hulle bestaan en identiteit. Dit was waar van die (eerste gereformeerde) sinode wat in 1618/19 in Dordrecht plaasgevind het toe die Drie Formuliere van Eenheid aanvaar is. Dit is waar van die Belydenis van Belhar wat in 1982 die lig gesien en in 1986 as ‘n belydenisskrif van die NG Sendingkerk aanvaar is.

Die teenstanders van die Belydenis van Belhar as ‘n belydenisskrif misbruik ook dikwels die woorde van Dirkie Smit, wat gesê het: “Trouens, die resepsie van belydenisskrifte bestaan nie eens in die herhaling van die woorde, van die presiese formuleringe nie. Die ware ontvangs van belydenisskrifte het eerder te make met opnieude toeëiening van die geestelike motiewe, van die religieuse beslissings, van die teologiese keuses, wat destyds gemaak is en wat in die dokument – gebrekkig en baie menslik – verwoord word.” (uit die notule van Tussenkerklike Raad van 3-4 November 2009)

Dit (vorige paragraaf, Smit se opmerking) is tog ook waar van die Drie Formuliere van Eenheid. Byvoorbeeld, as Artikel 4 van die NGB letterlik stel dat Moses die eerste vyf boeke van die Bybel geskryf het, Dawid (al) die Psalms en Salomo drie geskrifte, naamlik Spreuke, Prediker en Hooglied – terwyl ons vandag anders weet – dan weet ons vandag dat wat hierdie belydenisskrif betref dit ongetwyfeld die merktekens van die ontstaanstyd dra (soos ook Artikel 36 wat handel oor die Kerk/Staat-verhouding). Sien ook die antwoord by Vraag 2 hierbo verder.

Dit is daarom dat Smit ook van Belhar kan sê: “Ook die Belydenis van Belhar is gebore in so ’n historiese oomblik, van apartheid en van die Bybelse en teologiese regverdiging van apartheid binne die kerk self. Sonder dié politieke en kerklike agtergronde was daar geen Belhar nie en sonder die teologiese debatte van destyds kan die ontstaan van Belhar nie na behore verstaan word nie.” Sonder om daarmee enigsins toe te gee dat Belhar nie wel voldoen aan die “vereistes” vir ‘n belydenisskrif nie.

Vraag 4: Wanneer Belhar as voorwaarde vir kerkeenheid soos ‘n “rewolwer teen die NG Kerk se kop gehou word,” verloën dit dan nie sy eie boodskap van versoening nie?

Antwoord: Die ervaring deur sommige in die NG Kerk dat die Belydenis van Belhar deur die VGK as voorwaarde vir kerkhereniging soos ‘n rewolwer teen ons kop gehou word, is miskien ‘n beeld wat die waarheid ietwat versteur.

Hoe lyk die logika hieroor?

’n Mens sou kon aanvaar dat hereniging van die NG Kerkfamilie vir die meeste lidmate van die NG Kerk ‘n gedeelde ideaal is. As Gereformeerdes is ons belydenis-kerke. Ons het ‘n gedeelde belydenis-tradisie. Wanneer een van die vennote in hierdie proses hulle belydenisgrondslag met die Belydenis van Belhar uitgebrei het, volg dit logies dat met eenwording hierdie belydenis en sy aanvaarding ook deel sal wees van die toekomstige verenigde kerk. Ten minste moet dit ernstig opgeneem word.

Hoe lyk ons Christelike oortuiging oor iets soos hierdie vereiste?

’n Mens sou kon sê dat die naam van die NG Kerk agterop die Belydenis van Belhar staan. Die NG Kerk was die argitek van apartheid. Wie die gedokumenteerde geskiedenis van die ontstaan van die apartheidsbeleid, of beleid van afsonderlike ontwikkeling, of segregasie (soos dit in verskillende stadia van ontwikkeling genoem is) nagaan, sal sien dat die NG Kerk (en by name die Federale Raad van Kerke) sedert die laat veertigs en vroeg vyftigs van die vorige eeu, saam met die FAK, herhaaldelik aangedring het op die instelling van die verskillende apartheidswette. Soos die wet op die verbod van gemengde huwelike, die ontugwet en talle meer. Op die ou end was daar ‘n totaal van 150 apartheids-wette wat die lewens van mense op grond van ras bepaal het.

Die pyn wat hierdie beleid aan mense veroorsaak het, die aantasting van menswaardigheid van mense in Suid-Afrika wat nie-wit was nie, is welbekend, maar moeilik werklik begrypbaar deur diegene wat dit nie beleef het nie. Dis met hierdie pyn dat Belhar voor die deur van die NG Kerk kom staan – en voordat die NG Kerk die Belydenis van Belhar nie as sy eie gedeelde geskiedenis erken en aanvaar nie, sal geen verskoning, geen versoening, geen eenheid werklik met integriteit bejeën word nie. So moet die NG Kerk ook oor sigself dink, veral wanneer ons hoor dat ons al genoeg “jammer” gesê het.

Dit is baie erg – en ’n mens sal mooi moet dink hoe om dit te verdedig – dat wanneer ‘n mede-Christen voor jou kom staan en jou beskuldig van ‘n onreg teen hom/haar gepleeg (en jy wéét dit is waar en jy het dit alreeds erken), dat mens jou hart dan sal verhard en dit beskou as ‘n “geweer wat teen die kop gehou word.” As die genadige God dieselfde houding teenoor almal van ons sou hê, sou daar min sprake kon wees van ‘n herstelde, versoende verhouding met God.

As die NG Kerk dus nie Skriftuurlik en in terme van ons gedeelde belydenisskrifte fout kan vind met die Belydenis van Belhar nie, behoort dit vir die NG Kerk ‘n gawe van die Here te wees, ‘n genade-aanbod van vergifnis om reg te maak wat verkeerd was. Dit behoort daarom vir die NG Kerk ‘n wonderlike geleentheid wees om dit te aanvaar en daarmee die pad van versoening en van geregtigheid in Suid-Afrika met oortuiging te loop.

Vraag 5: In die verlede het die NG Kerk sy vingers verbrand met politiek deur apartheid te ondersteun: maak ons nie nou weer dieselfde fout deur politiek in die kerk in te bring met Belhar nie?

Antwoord: Die veronderstelling met hierdie vraag is dat met die aanvaarding van Belhar daar politiek in die kerk ingebring word. Daar is selfs mense wat Belhar sien as deel van die revolusionêre kommunistiese aanslag wat deur die ANC/SAKP alliansie teen die Suid-Afrikaanse regering gevoer is. Hulle sien die Belydenis van Belhar dus as ‘n politieke geskrif met duistere, kwade bedoelings. Hulle sien ook parallelle tussen Belhar en die Freedom Charter van die ANC wat gebruik is om die revolusionêre magte teen Suid-Afrika te motiveer tot terreurdade en anargie.

Wanneer ‘n mens egter na die ontstaan en ontwikkeling van die Belydenis van Belhar kyk, vind ’n mens werklik geen spore daarvan dat Belhar ‘n politieke aanhitsing tot opstand is nie. ’n Mens sien ook geen tekens daarvan dat dit tot geweld of revolusie oproep nie. Nog nêrens het die NG Kerk ooit sodanige beskouing oor die Belydenis van Belhar gehuldig. Inteendeel:

In paragraaf 306 van Kerk en Samelewing erken die NG Kerk alreeds in 1986 dat apartheid verkeerd was:

Die Ned Geref Kerk is oortuig dat die hantering van apartheid as ‘n politieke en maatskaplike sisteem wat mense verontreg en een groep onregmatig bo ‘n ander bevoordeel, nie op Christelike-etiese gronde aanvaar kan word nie, omdat dit in stryd is met die beginsels van naasteliefde en geregtigheid en onafwendbaar die menswaardigheid van almal wat daarby betrokke was, aantas.”

Daarom dat die NG Kerk tydens die Algemene Sinode van 1990 kon besluit dat die Belydenis van Belhar nie onskriftuurlik is nie en nie in stryd met die Drie Formuliere van Eenheid wat die belydenisgrondslag van die Gereformeerde kerkfamilie is, nie.

Hoedat die aanvaarding van die Belydenis van Belhar dus kan beteken dat die NG Kerk weer tot politieke manipulasie sou oorgaan, kan ’n mens hoegenaamd nie verstaan nie. Hierdie beswaar moet dus verwerp word, as sou dit op ‘n wanvoorstelling van die feite oor die saak berus.

Vraag 6: ’n Mens het respek vir die ervaring van bruin en swart lidmate onder apartheid en dat Belhar vir hulle belangrik is, maar hoekom moet “ons” dit nou ook aanvaar?

Antwoord: Hierdie vraag veronderstel eerstens ‘n skrikwekkende mate van onbegrip van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, veral sedert die ontstaan van apartheid/afsonderlike ontwikkeling. Dit verraai ‘n gebrek aan historiese bewussyn dat die lot van bruin en swart lidmate aan die ander kant van die apartheids-skeidslyn se lewe/bestaan/ervaring/wêreld nie regtig die vraesteller se lewe raak nie.

So kan broers en susters nie ongevoelig met mekaar omgaan nie.

Tweedens veronderstel so ‘n vraag onbegrip vir die feit dat die teologiese waarheid waaroor dit in Belhar gaan vir alle Christene diep en intens raak, ongeag of jy wit, bruin of swart is. Die geloof in God-drie-enig; die versugting tot eenheid in die geloofsgemeenskap; die universele oproep tot versoening as ‘n essensiële inhoud van ons Christelike getuienis, as ons identiteit as Christene; die strewe tot geregtigheid vir alle mense, is nie iets wat net tot die bruin en swart mense se lewens as Christene hoort nie.

Dit is wesentlik vir ons Christelike identiteit vir alle tye en op alle plekke en in alle omstandighede.

Vraag 7: Daar is soveel (politieke) bagasie met Belhar: moet ons Belhar nie liewer nou daar laat en gesamentlik ‘n nuwe belydenisskrif opstel as verenigde kerk in ons huidige konteks nie?

Antwoord: Die antwoord op hierdie vraag kan ook by die vorige antwoord (6) gevind word. ‘n Belydenisskrif kan kwalik ontstaan uit ‘n Christelik ongevoelige negering van die pyn-geskiedenis van mede susters en broers – veral in dieselfde kerkverband. Die beoogde “verenigde” kerk wat deur die vraag veronderstel word, sou beswaarlik ‘n eenheid van vrede en geregtigheid kan wees, sonder die afhandeling van die pyn van die verlede.

Vraag 8: Belhar behoort tot die verlede. Ons is nou in ‘n nuwe (politieke) bedeling. Kan ons nie nou maar soos Christene mekaar vergewe en almal saam positief saamwerk aan ‘n gesamentlike toekoms sonder hierdie bagasie van die verlede nie?

Antwoord:  Sien die antwoorde by vraag 6 en 7. Teks en konteks kan nooit geskei word nie. Ons en ons bagasie is deel van die toekoms. Dit kan as ‘n onversoende entiteit meegesleep word, of dit kan met die regte verwerking daarvan ‘n gawe tot versoening en vrede wees met die oog op ‘n geloofwaardige, integriteitvolle getuienis teenoor die wêreld.

Opgestel deur Ben du Toit

Trackback from your site.

Comments (4)

  • Susan Loubser

    |

    Hi Chris,
    Ben het geantwoord op Stephan Joubert en Janvan der Watt se kommentaar en dit toe verwyder van sy muur af, of daar is fout met Facebook. Ek is nie ‘n fundamentalis wat net boeke lees waarvan ek hou nie. Ek doen moeite om kritiese boeke ook te lees en hou van Belhar. Maar nou hang al my vrae in die lug want Ben se antwoord is weg.

    Reply

    • Webmeester

      |

      Jammer – maar dit sal Ben self moet antwoord. Ek het nie genoeg inligting daaroor nie. Ek sukkel ook soms met Facebook dat ‘n mens nie weer uitkom by goed wat jy weet daar staan nie.

      Reply

  • Susan Loubser

    |

    Hi Ben, jy gee ‘n indrukwekkende uiteensetting waarom Belhar as belydenisskrif aanvaar behoort te word. Wat behoort die minimum dogmatiese basis te wees van waaruit die omvangryke sosiale geregtigheid en veroening van Belhar vloei? Ek vra dit respekvol en sonder bybedoeling in die lig van spesifiek Jan van der Watt, Stephan Joubert, Jan du Rand en Adrio Konig se standpunt dat jy in jou boek: God? Geloof in ‘n postmoderne tyd die opstanding van Jesus wesenlik verander; dat jy die wonders, en maagdelike geboorte van Jesus ontken ens. Belhar praat oor die Drie-Eenheid en ook dat Jesus die “Here” is. Kan jy, in die lig van Van der Watt et al se kritiek oor jou interpretasies van Jesus, bely dat Jesus “Here” is, en getrou wees aan die letter en gees van Belhar?

    Reply

    • Webmeester

      |

      Susan – jy is kennelik beïndruk met Ben se aanvaarding van die belydenis van Belhar. Vir die doel van hierdie blad kom julle standpunte dus ooreen. Die res van die vrae oor Ben se eie dogmatiese sieninge is persoonlik van aard, en omdat jy dit ook reeds by Ben se eie Facebook blad gevra het, volstaan ek met daardie gesprek.

      Reply

Leave a comment

%d bloggers like this: