dien thoai di dong , dau gia , the gioi smartphone , download game mobile , smartphone , tang truong , khoa hoc cong nghe thong cong , mua ban sim , Smartphone gia re , cong nghe tuong lai , cong nghe 360 , giai tri guongmat.org , su kien trong ngay , thoi trang hi tech , thong tin 360 , may tinh bang , perfect body , kasuman.com , gia vang hom nay , tin tuc an toan , kinh te viet nam , xay dung viet nam , thoi trang , thoi trang , phu nu viet nam , tin tuc moi online , dich vu bao ve viet nam , bao ve viet nam , cong ty bao ve viet nam , tin tuc moi online , giai tri 24h , tin tuc 24h

Ons gesamentlike belydenis vandag

Written by Webmeester on . Posted in Ander bydraes

Print Friendly
Die Belydenis van Belhar hou nie net verband met die ongelukkige geskiedenis van die apartheidstydperk in Suid-Afrika se verlede nie. Die belydenis spreek sigself nie net uit teen alle onreg en strukture wat die menswaardigheid van mense toe aangetas het nie. Dit roep ook positief om versoening en geregtigheid. Nou. En in die toekoms.

Ook in die ander belydenisskrifte van ons kerk (gereformeerde tradisie) bely ons dieselfde waarheid – weliswaar vanuit ‘n heel ander tydperk en konteks van die geskiedenis van ons Christelike geloof:

HK Vraag 113:   Wat eis die tiende gebod van ons ?

Antwoord:          Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en hartgrondig vyande van alle sonde wees en ’n begeerte tot alle geregtigheid hê.

HK Vraag 122:   Wat is die eerste bede ?

Antwoord:          Laat u Naam geheilig word. Dit is: Gee allereers dat ons U reg ken en dat ons U heilig, roem en prys in al u werke, waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter. Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat u Naam om ons ontwil nie gelaster nie maar geëer en geprys word.

In Artikel 29, oor die kenmerke van die ware kerk, skryf die Nederlandse Geloofsbelydenis onder andere: “Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet,”

Die teologies-evangeliese waarde van hierdie belydenis oor geregtigheid en versoening is tydloos en waar in alle omstandighede, in enige tyd van die geskiedenis en enige plek in die wêreld.

Vanuit ons versoening met God deur/in Jesus Christus, word ons opgeroep tot ‘n bediening van versoening in hierdie wêreld. Sien weer die uitleg van 2 Korintiërs 5: 16 in die tweede deel van hierdie pakket (Belhar en die Bybel).

Ons het ook gesien dat geregtigheid vir God van deurslaggewende belang is. Dit blyk uit haas elke geskrif van die Ou en Nuwe Testament, wanneer ons lees dat die lot van kinders, weduwees, die armes, verdruktes en verontregtes nie net vir Hom na aan die hart lê nie, maar dat Hy eweneens sy volk, die gelowiges, die kerk oproep tot die nastreef van geregtigheid in die wêreld teenoor alle mense (Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid… Matteus 6:33).

Die nuwe Grondwet van ons land wat in 1996 aanvaar is as waardesisteem vir post-apartheid Suid-Afrika, eggo ook dieselfde sentimente. Oral word die term “geregtigheid” aangetref. So lui die aanhef van hierdie Grondwet:

Ons, die mense van Suid-Afrika,

Erken die ongeregtighede van ons verlede;

Huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het;

Respekteer diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel; en

Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid. Daarom neem ons, deur ons vryverkose verteenwoordigers, hierdie Grondwet aan as die hoogste

reg van die Republiek ten einde –

Die verdeeldheid van die verlede te heel en ’n samelewing gegrond op demokratiese waardes,

maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep;

Die grondslag te lê vir ’n demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die

wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word;

Die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit; en

’n Verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as ’n soewereine staat

in die gemeenskap van nasies kan inneem.

Mag God ons mense beskerm.

Nkosi Sikelel’ iAfrika.

Hierna word die “menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede” as die eerste waarde van die Grondwet beskryf (Artikel 1 a). Op verskeie maniere word hierdie “geregtigheid en gelykheid” dan verder beskryf – maar veral in Artikel 9 (die Handves van Menseregte) waarin ons onder meer lees:

9. (1) Elkeen is gelyk voor die reg en het die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg.

(2) Gelykheid sluit die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede in. Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is.

(3) Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.

Net soos met die stryd teen apartheid word die stryd teen alle onreg in die samelewing vandag vanuit hierdie oortuiging en reg in kerk en wêreld/staat gevoer. Dit het die ontwikkeling van die volle potensiaal van elke mens ongeag geslag, klas en ras ten doel – en tot hierdie ideaal verbind die Belydenis van Belhar die Christelike geloofsgemeenskap.

Hierdie roeping word vanuit ‘n suiwer Christelike mensbeskouing (antropologie) gemotiveer. In die Grondwet word daar baie gewag gemaak van menseregte. Baie maal is al vanuit Christelike kant téén hierdie konsep geargumenteer. Dit word dan beskou as suiwer humanisme: dat die mens in die sentrum gestel word en nie God nie; dat mense eintlik geen reg (voor God) het nie, omdat alles wat ons is/het, net genade is; dat hierdie “mens-gesentreerde ideologie” die belydenis van die mens as totaal verdorwe en sondig negeer of ignoreer.

In die lig van hierdie kritiek help dit waarskynlik as ’n mens ‘n onderskeid sou maak tussen menseregte en menswaardigheid. Dat na eersgenoemde as ‘n ideologiese, politieke begrip verwys word, terwyl menswaardigheid eerder ‘n teologiese begrip is – opkomend vanuit die geloof dat God deur sy vergifnis aan ons, (mens)waarde gee as nuwe skeppinge – gelowiges herskape na die beeld van God.

Tog, wanneer ons as gelowiges ons menswaardigheid voor God as genadegawe aanvaar en wanneer ons dieselfde waarde aan ons medemens vanuit die evangelie toeken (ons beoordeel niemand meer volgens menslike maatstawwe nie – 2 Korintiërs 5), dan volg dit seker logies dat ons die regte wat ons vir onsself toeëien ook aan ander sou wou gun: dit is ook hulle reg. Dit hou dus verband met hoe ons oor mense as Christene dink: dat hulle regte het – as mense. Omgedraai beskou, sou ’n mens dus kon sê dat daar waar mense hulle regte ontneem word, of waar hulle regte om volwaardige mense te wees hulle geweier word, die Christelike geloof daarteen sou moet getuig.

Vir Christene word die menswaardigheid van alle mense ook duidelik in die menswording (humanisering) van God in Jesus van Nasaret. Dat God Homself juis op hierdie manier aan die wêreld wou openbaar (Hebreërs 1:1-3) is betekenisvol vir die (Goddelike) waarde wat God daardeur aan menswees as sodanig gee.

Die NG Kerk het in sy vroeëre geskiedenis help skep aan ‘n bepaalde antropologie (mensbeskouing) waarin die onderskeiding van mense in terme van ras en kleur bepalend was vir waar iemand kon woon, werk en speel; met wie mense hulle kon assosieer; met wie mense kon trou, kerk toe gaan, in ‘n ry staan, op watter bank hulle sit en deur watter deur hulle ‘n vertrek inloop. Daarop was die hele Suid-Afrikaanse wetboek gebaseer. Op grond daarvan is menslike gedrag positief beoordeel, of gekriminaliseer. Op grond daarvan is mense finansieel bevoordeel of benadeel. Téén hierdie onreg het die Belydenis van Belhar beslag gekry – is met oortuiging gestel dat die waarheid van die Evangelie op die spel is, wanneer mense se menswaardigheid (sistemies) aangetas word; wanneer versoening daarom onmoontlik word; as die eenheid van Christene daardeur bedreig word. Want dit gaan oor die menswaardigheid van (alle) mense. Dit gaan oor hoe mense oor mekaar dink.

Belhar kom egter met ‘n ander mensbeskouing, nuut in die Suid-Afrikaanse konteks, nuut in die histories koloniale konteks, maar nie nuut in terme van die boodskap van die Bybel nie. En dis hierdie tydlose waarheid wat nou weer in die konteks van die “nuwe Suid-Afrika” eweneens waar en geldig is.

Met ander woorde: oral waar daar vandag in ons huidige ervaring in ons land die voorkoms van onreg is, waar mense se menswaardigheid aangetas word, waar mense geleenthede om tot hulle volle potensiaal te ontwikkel ontneem word, waar daar in terme van ras en geslag oor mense se waarde geoordeel en besluit word, kom die diepste bedoeling van die Belydenis van Belhar as ‘n bevrydende, skeppende woord van hoop vir alle mense, in die gedrang.

Vanuit ons geloof in die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, is ons hiervan oortuig.

Wat beteken dit prakties vir ons as lidmate van die NG Kerkfamilie in post-apartheid Suid-Afrika? Waar is vandag die onreg waarteen hierdie belydenis ‘n getuienis (wil) lewer?

Met die Belydenis van Belhar (en dus met die Bybel en die oortuigings van ons geloofstradisie) in die hand, moet die kerk ook vandag die vraag na geregtigheid en versoening vra…

  1. Wanneer daar in die naam van Regstellende Aksie onreg gepleeg word teen talle jongmense wat vandag nie in hulle geboorteland in aanmerking kan kom vir toelating vir studie of bepaalde poste nie, net omdat hulle wit is. Hiermee word nie die oorspronklike bedoeling met Regstellende Aksie bevraagteken nie. Inteendeel. Apartheid het ‘n enorme stand van ongelykheid tussen rasse in Suid-Afrika geskep. Voorheen benadeeldes (nie-witmense) moes daarom ná apartheid in terme van geleenthede voordeel kon kry bo diegene wat vanuit ‘n voorheen bevoorregte posisie in die koloniale en apartheids-tydperk toegang gehad het tot die opbou van kapasiteit in geld, besittings en intellektuele kapitaal. Maar om nog steeds amper 20 jaar na die amptelike afskaffing van apartheid en skepping van gelyke geleenthede vir alle mense, sekere mense wat selfs ten tyde van die apartheidstydperk nog nie gebore was nie, van gelyke geleentheid tot beroepe en lewensvervulling op grond van ras uit te sluit, is eweneens ‘n aantasting van hulle menswaardigheid – ‘n onverdiende onreg.
  2. Wanneer swak, gebrekkige (of totaal afwesige) dienslewering deur plaaslike owerhede miljoene inwoners van ons dorpe en stede dwing tot swak lewensomstandighede, gebrek aan menswaardige behuising, skoon water en gereelde vullisverwydering, terwyl die amptenare van die plaaslike regering buite verhouding vergoeding vir hulleself opeis.
  3. Wanneer die vryemark-ekonomie so gebruik word dat armes armer word en rykes ryker en die enorme ongelykheid in die SA-samelewing nie meer noodwendig in rasse-samestelling gevind word nie, maar in skreiende ekonomiese wanbalanse.
  4. Wanneer die staat nog steeds transformasie vereis bloot op grond van rasse-demografie en nie op grond van werklike ekonomiese ongelykhede nie – soos byvoorbeeld in die geval van maatskaplike dienslewering waar die staat steeds verwag dat mense se ras aangedui moet word, terwyl daar nie meer iets is soos ‘n rasseklassifikasie-wet en/of die aanduiding van ras in die ID-nommer nie (op grond waarvan verklaar ‘n maatskaplike werker iemand swart, of bruin, of wat ook al?). Selfs die aanduiding van ras deur ‘n professionele amptenaar, sou as ‘n aantasting van menswaardigheid beskou kon word.
  5. Wanneer daar in die naam van “entitlement” die gruwelikste vergrype plaasvind en sekere waardes van hardwerkendheid en persoonlike besitreg (om maar net twee te noem) summier oorboord gegooi word, terwyl hebsug en grypsug die botoon voer – dikwels deur leiersfigure in gemeenskappe en in die regering.
  6. Wanneer daar in die naam van Grondhervorming goeie, produktiewe kommersiële grond in so ‘n mate verval, dat dit tot verdere verarming en bedreiging van voedselsekuriteit in die land lei.
  7. Wanneer daar teen gay mense se menswaardigheid opgetree word as hulle bepaalde seksuele oriëntasie in die naam van Afrika-tradisie (of Afrikaner-tradisie) geminag word.
  8. Wanneer vroue bloot tot manlike besittings gedegradeer word deur patriargale samelewingstrukture en veelwywery. Wanneer geweld teen vroue en kinders binne tradisionele huwelikstrukture gepleeg word en mag en wellus hoogty vier.
  9. Wanneer die president van die land – en kabinetsministers – hulleself op blatante wyse verryk met skouspelagtige huise van miljoene rande, terwyl miljoene inwoners van die land onder die broodlyn in haglike toestande van armoede en werkloosheid leef – en daar statisties aantoonbaar geen vordering gemaak word met die verkleining van die armoede-vraagstuk nie.
  10. Wanneer miljoene skoolkinders ontneem word van behoorlike onderrig as gevolg van wanadministrasie en korrupsie in die verskaffing van handboeke aan skole.
  11. Wanneer die regering volhou daarmee om wetgewing aanvaar te kry waarin inligting oor korrupsie en finansiële wanbestuur deur die regering (of wie ook al) van die burgers van ons land weerhou word en moontlike vervolging van oortreders in die wiele gery word deur die beskerming van inligting hieroor… terwyl diegene wat hierdie inligting aan die lig bring, vervolg/gestraf en gekriminaliseer kan word.

Nie ons almal sal saamstem oor hierdie lys nie. Sommige sou ander sake wou byvoeg en ander sou van hierdie sake wou weglaat. Feit bly staan: Hierdie lys sake wat vandag in ons SA-samelewing algemeen voorkom, tas die diep teologiese uitgangspunte van die Belydenis van Belhar aan wanneer dit tot die aantasting van die menswaardigheid van mense lei, wanneer reg en geregtigheid skipbreuk ly. Die ideaal van ‘n nie-rassistiese, nie-seksistiese samelewing in Suid-Afrika word heel dikwels deur geïnstitusionaliseerde rasse-onderskeiding (en somtyds met gepaardgaande tradisionele geslag-vooroordele) in die wiele gery.

In plaas daarvan dat daar vir die doeleindes van transformasie op die enorme ekonomiese ongelykheid in die land gefokus word, sien ons hoedat daar (nog steeds – en somtyds tans toenemend) gefokus word op ras vir die “regstelling van ongelykhede”. Dit skep die persepsie dat om swart te wees vanselfsprekend armoede en agtergeblewenheid beteken, terwyl om wit te wees vanselfsprekend bevoordeeld en ryk veronderstel.

Die Belydenis van Belhar is vir alle tye nodig. Onreg en vyandskap, magsug en hebsug, is inherent deel van alle kontekste en latent aanwesig in die psige van alle volkere, nasies en lande. Hoe meer Christene hulle met hierdie belydenis as relevante kontekstuele uitdrukking van die Evangelie van Jesus Christus kan vereenselwig, soveel te meer sal daar hoop wees vir vreedsame naasbestaan – hoop vir alle mense.

Ben du Toit

Trackback from your site.

Leave a comment

%d bloggers like this: