dien thoai di dong , dau gia , the gioi smartphone , download game mobile , smartphone , tang truong , khoa hoc cong nghe thong cong , mua ban sim , Smartphone gia re , cong nghe tuong lai , cong nghe 360 , giai tri guongmat.org , su kien trong ngay , thoi trang hi tech , thong tin 360 , may tinh bang , perfect body , kasuman.com , gia vang hom nay , tin tuc an toan , kinh te viet nam , xay dung viet nam , thoi trang , thoi trang , phu nu viet nam , tin tuc moi online , dich vu bao ve viet nam , bao ve viet nam , cong ty bao ve viet nam , tin tuc moi online , giai tri 24h , tin tuc 24h

God is op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte

Written by Webmeester on . Posted in Ander bydraes

Print Friendly
‘n Mens kan nie net met enkele Bybeltekste werk om God se verbintenis aan al die mense van hierdie wêreld te bevestig nie. Soms is dit egter die enigste manier om ‘n duidelike antwoord te gee as die vraagstellers aandring daarop.

Daarom hierdie vier Bybeltekste om duidelik aan te toon dat God die God van alle mense op die aarde is, en dat wanneer Hy Hom as die Beskermer van dié wat nood het bekend maak, dit ook geld vir almal wat nood het op die aarde:

  • Jesaja bevestig dat God die God is van die hele wêreld, en dit in die konteks van sy verbintenis ook met Israel: “Hy wat jou gemaak het, is jou man, sy Naam is die Here die Almagtige. Die Heilige van Israel is jou Verlosser; Hy word DIE GOD VAN DIE HELE WêRELD genoem” – Jes 54:5. God is nie beperk tot Israel nie, en sy genade, genadiglik, ook nie.
  • Jeremia doen dieselfde en noem God die God “van” al die mense: “Ek is die Here DIE GOD VAN AL DIE MENSE.” – Jer 32:27. Daar is eintlik geen ander gode nie, net een God van almal, soos Paulus redeneer in 1 Kor 8:5-6: “En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie wat “Here” genoem word, is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.”
  • Nog duideliker is Paulus in Romeine wanneer hy ‘n eksklusiewe siening oor God as net die Joodse Verbondsgod moet troef, en sê: “Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook (GOD) VAN DIE HEIDENNASIES” – Rom 3:29. Duideliker kan dit eintlik nie gesê word nie.
  • Daarom kan ons saam met die Jode van Esra se tyd verklaar: “Ons is dienaars van DIE GOD VAN DIE HEMEL EN DIE AARDE” – Esra 5:11.

Dit is nou benewens die vele tekste wat op God se verbintenis aan alles en almal dui weens die feit dat Hy alles in die eerste plek geskep het – die hele skeppingstradisie regdeur die Bybel. Trouens, alle mense is reeds in die verbond met Adam (Hos 6:7 – as die teks net so gehou word [terloops: met wysigings aan die teks, kan die woord Adam na ‘n dorpie Adam dui, soos in die NAV, hoewel dit nie deur baie geleerdes nagevolg word nie – ander interpreteer die woord Adam weer as grond in die betekenis van “dirt”]) en met Noag ingesluit (Gen 9:9) as ‘n mens tog met ‘n verbondskonteks wil werk. Dit beteken nou nie dat almal gered word nie. Daarvoor is ‘n verbintenis met Jesus Christus nodig, soos die NT en Paulus spesifiek dit tog duidelik uitspel: “Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.” – 1 Kor 15:22.

Al die ander Bybeltekste wat dus op God se besondere gevoel dui vir armes, noodlydendes, verdruktes ensomeer, het nie net met dié in die Abrahamitiese verbond of dié wat deel is van die Joodse volk, of deel is van die geloofsgemeenskap (Gal 3:29) betrekking nie. Trouens, dít is een van die maniere waarop God se genade vir alle mense bekend gemaak word, deur die armes, verdruktes en noodlydendes van Sy liefde te verseker en aan hulle te verkondig dat God hulle genadig wil wees in Jesus Christus.

Dit is ook waarom Jesus dan ook ALLE MENSE (Jode, Christene en heidene) by die wederkoms verdeel in die metaforiese bokke en skape (Matt 25), en die onderskeiding tussen die groepe maak op grond van hulle barmhartige omgee vir dié wat nie vir hulleself kan sorg nie. Hoekom? Omdat God self só is, Hy gee om vir dié wat swaar kry, maak nie saak wie hulle is of waar hulle is nie. En waar ons ‘n beker koue water vir iemand gee, maak nie saak of hy of sy ‘n gelowige is of nie, dit gereken word asof ons dit vir God gegee of gedoen het. God hanteer doodgewoon nie (bv) geweldenaars dieselfde (tot hulle tot inkeer kom) as dié wat ly onder geweld nie. Sy genade is vir almal, maar waar mense nie genade bewys aan dié wat dit nodig het nie, staan God die genadeloses teë en kom op vir dié wat genadeloos hanteer word, en vra sy kerk om Hom hierin na te volg.

Gereformeerdheid is dus NIE op die spel as ‘n mens die frase in die Belydenis van Belhar aanvaar NIE (God is op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte), wel jou deernis met dié wat swaar kry in die lewe, gelowig of ongelowig. Dat jy nie dié spesifieke bewoording wil aanvaar nie, is jou vrye reg. Maar om dit as ongereformeerd of onBybels uit te wys, is onwaar.

Hoe pragtig klink die loflied van Hanna nie, toe sy in haar nood ‘n kind van die Here gekry het nie: (1 Sam 2:7-8):

“Die Here maak arm en Hy maak ryk,
Hy verneder,
ook gee Hy aansien.
Hy laat die geringes
uit die stof opstaan,
Hy hef die armes op
van die ashoop af
om hulle by vername mense
te laat sit;
Hy skenk hulle ’n ereplek.
Aan die Here behoort die pilare
van die aarde;
Hy het die aarde daarop
gegrondves.”

Spreuke 30 waarsku ons, en dit geld alle mense:

“11 Daar is ’n soort mens
wat sy vader vervloek
en vir sy moeder
nie ’n goeie woord het nie,
12 ’n soort mens wat homself
as rein beskou,
maar van wie die vuilheid
nie afgewas is nie,
13 ’n soort mens wat vol hoogmoed,
vol eiewaan is,
14 ’n soort mens wat koelbloedig
en wreed is in sy hebsug
en wat teer op die hulpeloses en armes
in die land.”

God is téén sulke mense en vír dié wat ly onder hulle aanslag.

Koning Lemuel – van Massa in Noord-Arabië – word deur sy ma as volg voorgeskryf – en sy woorde is in Spreuke 30 opgeneem:

“8 Praat jý vir dié wat self nie
hulle sê mag sê nie,
kom op vir die reg van dié
wat te gronde gaan;
9 praat, en lewer regverdige uitsprake,
laat reg geskied aan die armes
en ellendiges.”

Jesus verstaan sy roeping en bediening as een wat veral vir die armes bedoel is:

“18 “Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My gesalf het
om die evangelie aan armes
te verkondig.
Hy het My gestuur
om vrylating vir gevangenes
uit te roep
en herstel van gesig vir blindes,
om onderdruktes in vryheid
uit te stuur,
19 om die genadejaar van die Here
aan te kondig.”

Dit is dus ook die roeping en bediening van die wat Hom volg as Hy sê: “Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies …” Armes, gevangenes, blindes, onderdruktes – almal mense wat nodig het om te hoor dat daar vir hulle genade is.

Jesus sê ook vir ons as gashere in Lukas 14:12-14:

“12 As jy in die middag of in die aand ’n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie. 13 Nee, as jy ’n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. 14 Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.” God se seën rus veral op dié wat sorg vir die armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Praat van ‘n besondere wyse …!

Handelinge 9 vertel vir ons die kostelike storie van Dorkas wat die armes gehelp het, en by haar dood, weer opgewek is om daarmee te kon voortgaan. Die hele Joppe was daaroor bly, want dit het almal geraak! En dit bring ‘n hele aantal tot geloof in Jesus!

“36 In Joppe was daar ’n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. 37 Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in ’n bokamer neergelê. 38 Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.”
39 Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. 40 Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”
Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41 Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. 42 Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom.”

by Chris van Wyk

Trackback from your site.

Comments (3)

  • Wynand

    |

    God is die God van al die mense op die aarde.

    Hierdie is natuurlik reg. God is die God van alle mense in die sin dat Hy eienaarskap het oor die hele skepping. Dit word duidelik in die eerte hoofstuk van Johannes genoem:

    Johannes 1:11 Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.

    Hy het na sy eiendom toe gekom:

    Die hele mensdom behoort aan Hom. Hy laat die son skyn en die reën val op die regverdige en die ondergverdige. Hierdie is verwysings na God se algemene genade.

    Die woord “besonderse wyse” in Belhar beteken egter dat hier iets meer by betrokke is as net die algemene genade. Hier word onderskeid getref tussen mense. Met ander woorde: As God vir ALMAL lief het, of sorg, of besit (eienaarskap het) is daar niks besonders aan die een groep of die ander nie. Almal is tog voor God eenders in dié verband.

    Wat van Paulus? Die belangrike punt wat Paulus maak (Lees hom in konteks asseblief!) is dat God, wat voorheen slegs op ‘n besonderse wyse die God van Israel was nou ook heidene in sy verbond insluit. Hier praat Paulus dus nie van God se algemene genade en eienaarskap nie maar van die feit dat die verbond in Christus uitgebrei word na mense uit ander nasies. In Efesiers 3 praat Paulus dan juis van die geheimenis wat God aan hom openbaar het: Dat die verbond uitgebrei word na mense uit die heidennasies, en in Galasiers 3 is dit duidelik: Daar is nie meer Jode en Grieke on slawe en slawe-eienaars nie. IN CHRISTUS is almal een. Die kernwoorde is hier “in Christus”. God breek slegs mure van etnisiteit deur mense in Sy verbond in te voeg. Dié wat buite die verbond staan het nie deel hieraan nie.

    Omdat God eienaarskap oor die hele mensdom het, is Hy geregtig daarop om mense uit die heidennasies in Sy verbond op te neem.

    En tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie:

    Die mensdom as ‘n geheel het Hom verwerp, ten spyte van Sy eienaarsreg op die mensdom.

    Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo:

    Die Bybel ken geen onderskeid tussen mense op grond van ekonomiese stand of politieke klas nie. Slegs op grond van hulle posisie in Christus.

    het Hy die reg gegee om kinders van God genoem te word:

    Hier is die enigste groep mense vir wie God op ‘n besonderse wyse hulle God is: Dié wat Hom aangeneem het en in Hom glo.

    Hulle is dit nie uit die besluit van ‘n mens nie, maar hulle is uit God gebore:

    God se soewereinheid in die wedergeboorte word hier bevestig.

    Johannes 1 leer dus duidelik: Die hele mensdom behoort aan God, maar God is slegs op ‘n besonderse wyse die God van dié wie op grond van Sy soewereine besluit Hom aangeneem het.

    Ek haal jou aan:

    “Gereformeerdheid is dus NIE op die spel as ‘n mens die frase in die Belydenis van Belhar aanvaar NIE (God is op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte), wel jou deernis met dié wat swaar kry in die lewe, gelowig of ongelowig.”

    Niemand ontken vir een oomblik dat God wil hê ons moet deernis hê vir almal wat noodlydend is, ongeag hulle geloof nie. Die afleiding dat my deernis op die spel is as ek hierdie reël verwerp is absurd. Ek verwerp hierdie stelling met my hele wese. Dit volg eenvoudig nie en weerspreek een van die basiese premisse van my geloof. Juis dit is die bewys dat ek waarlik glo, dat ek waarlik deel van die verbond is, as ek soos Jesus vir mense in nood bystaan.

    Ek het reeds voorheen hier opgemerk: As ek omgee vir honger kinders beteken dit nie ek is alle honger kinders se pa nie. Slegs my eie kinders is my kinders. Die dinkfout wat Belhar maak is om te sê dat as ek omgee vir iemand ek noodwendig in ‘n besondere verhouding met die persoon staan. Dit is eenvoudig vals.

    Ek glo daar is baie “Gereformeerdes” wat hulle gereformeerdheid verloën. Dr Ben du Toit, wie ‘n artikel elders hier op die webwerf geskryf het verloën nie net sy Gereformeerdheid nie maar die Christelike godsdiens. Maar dit is ‘n ander gesprek. Die punt wat ek probeer maak is: Net omdat mense sê “Here Here” beteken dit nie hulle onderskryf die Gereformeerde belydenis nie. Daar is baie voorbeelde van kerke wat nie meer deel van die Liggaam van Christus is nie. (Byvoorbeeld die Katolieke kerk, en liberale protestantse kerke in Europa.) Ek beweer nie Belhar sal ‘n kerk onmiddelik afsny van Christus nie. Moet my asb nie verkeerd verstaan nie. Maar dat hierdie sin in Belhar ‘n kerk se stuurwiel in die verkeerde rigting sal draai is duidelik.

    En ja, net soos wat die woorde “God is op ‘n besonderse wyse die God van die Afrikaners” politieke implikasies het, het die woorde “God is op ‘n besonderse wyse die God van die verontregtes” duidelike politieke implikasies. Hierdie is niks anders as ‘n teologiese regverdiging vir die Marxistiese klasserewolusie nie, net soos eersgenoemde die regverdiging vir apartheid was.

    Ek glo nie enige historikus kan die verband tussen Belhar en bevrydingsteologie ontken nie.

    Reply

    • Webmeester

      |

      Dit is omdat God die God van die heidennasies is, dat hulle deur Hom ingesluit kan word in die genade. Dit is wat die konteks van Romeine 3:29 bedoel. Dit vorm dus ‘n parallel met Johannes 1 wat (anders as wat jy aandui) sê dat God deur sy eiendom (die Jode, nie alle mense nie) verwerp is … maar dat daar genade is vir dié wat glo in Jesus Christus. Ek volstaan – jy het ‘n basiese fundamentele verskil in interpretasie – en jy mag dit handhaaf. Jou veroordeling van ander omdat hulle van jou verskil en vertekening van hulle omdat hulle van jou verskil, maak verdere gesprek moeilik.

      Reply

Leave a comment

%d bloggers like this: