dien thoai di dong , dau gia , the gioi smartphone , download game mobile , smartphone , tang truong , khoa hoc cong nghe thong cong , mua ban sim , Smartphone gia re , cong nghe tuong lai , cong nghe 360 , giai tri guongmat.org , su kien trong ngay , thoi trang hi tech , thong tin 360 , may tinh bang , perfect body , kasuman.com , gia vang hom nay , tin tuc an toan , kinh te viet nam , xay dung viet nam , thoi trang , thoi trang , phu nu viet nam , tin tuc moi online , dich vu bao ve viet nam , bao ve viet nam , cong ty bao ve viet nam , tin tuc moi online , giai tri 24h , tin tuc 24h

Eenheid, versoening en geregtigheid – die kernsake in die Belydenis van Belhar

Written by Webmeester on . Posted in Ander bydraes

Print Friendly

1.         Historiese konteks

Elkeen van die talle Gereformeerde belydenisse het binne of in reaksie op ‘n bepaalde politieke of kerklike konteks onstaan – konkrete oomblikke (kairos momente) waar die oortuiging gegroei het dat die waarheid van die evangelie op die spel geplaas word en waarin die kerk nie anders kan as om in ‘n staat van belydenis (status confessionis) oor te gaan nie. So het die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en byvoorbeeld die Barmen Verklaring ontstaan. En so is ook Belhar gebore, as ‘n “kreet uit die hart…om die evangelie ontwil” oor die “kerklike en politieke situasie binne ons land en veral binne die NG Kerkfamilie” (Vgl. Die Begeleidende Brief).

Ook die Belydenis van Belhar kan dus nie los verstaan word van die historiese situasie waarin dit ontstaan het nie. Net soos die ander Gereformeerde belydenisskrifte, is Belhar ook nie “‘n a-historiese, tydlose en kontekslose dokument met ewige en finale formuleringe, wat net só en nie anders gestel kan en moet word nie. Die inhoud van sulke belydenisse lê in hulle strekking, in hulle religieuse motiewe, in hulle geestelike beslissings, in die insigte wat hulle oor die evangelie wou verwoord in hulle spesifieke konteks, in die oortuiging wat hulle wou bely téénoor misleidende oortuigings in die lug” (Berkouwer, soos verwoord deur Dirkie Smit). Belhar moet daarom geweeg word in die lig van die teologiese inhoud daarvan, die geestelike beslissing en bedoeling oor die waarheid van die evangelie binne die konteks. Daarom is die begeleidende brief, soos ook by die ander belydenisskrifte, vir die verstaan van die belydenis van wesenlike belang. Sodat dit in ons eie konteks telkens weer lewend en nuut vertolk kan word.

2.         Belydenis of teologiese verklaring?

Belhar is in eenvoudige, lofsingende (doksologiese) en belydende taal geskryf. Dit wemel van direkte aanhalings van frases en tekste uit die Bybel en die bestaande belydenisskrifte – dit het nie die karakter van bloot ‘n teologiese verklaring of studiestuk nie. Dit is as belydenis bedoel. Die inhoud fokus veral op die kerk se identiteit en roeping in die wêreld.

3.         Aanhef en slot

Die aanhef en slot is meer as terloopse opmerkings. In die aanhef word daar in die woorde van die Kategismus bely dat “die Drie-enige God self deur sy Woord en Gees die kerk versamel, beskerm en versorg”. In die historiese konteks was dit ‘n duidelike afwysing van die volkskerk-gedagte, waarin die liberaal-teologiese konsep van vrye assosiasie van gelykgesindes en menslike oorweginge soos kulturele, sosiologiese of politieke ideologieë die deurslag gee. Teenoor die volkskerk gaan dit hier om ‘n belydeniskerk, om die kerk wat voortvloei uit die hart en handelinge van die Drie-enige God. Netso is ook die slotgedeelte, met die oer-belydenis dat Jesus die Here is, binne die destydse konteks nie so onskuldig bedoel nie. Nie aan die keiser, of watter mag of ideologie ook al nie, maar alleen aan die Here van die kerk is gehoorsaamheid verskuldig!

4.         Drie sake in die hart van die evangelie

Binne die teologiese raamwerk van die aanhef en slot, wat so swanger aan betekenis is, word drie kernsake oor die kerk bely: eenheid, versoening en geregtigheid, drie eienskappe wat mens direk sou kon verbind aan die 12 Artikels en die Belydenis van Nicea se een, heilige en algemeen Christelike kerk, die gemeenskap van heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.

Elkeen van die drie sake word in ‘n bepaalde struktuur aan die orde gestel. In die eerste plek word iets bely oor die wese van God en die handelinge van God. Dit gaan oor hoe God is en watter gawes Hy aan sy kerk skenk. In die tweede plek gaan dit oor die opdrag, die roeping wat daaruit voortvloei. Wat God gee, word ook opdrag. Die indikatief is tegelyk ook imperatief. Vanuit die identiteit vloei die roeping. En in die derde plek gaan dit oor die praktiese implikasies daarvan vir die kerk, maar dit gaan ook – soos by alle belydenisse – oor die dinge wat afgewys of bestry moet word, naamlik dit wat binne die konteks die waarheid van die evangelie op die spel plaas.

4.1       Die lewende eenheid van die kerk

Daar sou baie redes, selfs goeie en dwingende redes, genoem kon word waarom die kerk, veral dan die NG Kerkfamilie, een behoort te word. Belhar bely dat daar net één ware God is, één Here, die één liggaam van Christus, één geloof, één doop… (vgl. die talle direkte aanhalings uit die Johannes Evangelie, Efesiërs en Kolossense). En hierdie één God skenk aan sy kerk die eenheid as gawe; Christus sterf daarvoor aan die kruis; Hy bid daarvoor; Hy stuur sy Gees as die saambindende krag. Dié eenheid word nie deur ons geskep nie, dit is nie ons keuse of maaksel nie, dis ‘n gawe van God aan sy kerk.

Die eenheid is egter tegelyk ook opgawe; ons moet uitleef wat ons in Christus reeds is, tot lof van God en sodat die wêreld kan glo. Hy het reeds die muur van skeiding afgebreek, die magte wat ons skei deur sy dood oorwin. Daarom kan ons die eenheid sigbaar uitleef, kan ons word wat ons in Christus reeds is.

In die derde plek word bely hoe die eenheid op ‘n verskeidenheid van maniere uitgeleef behoort te word. Dit gaan om liefdesdade; om die belewing van gemeenskap met mekaar; of dat ons, in die woorde van die Kategismus, onsself tot nut en saligheid van mekaar gewillige en met vreugde gee, daarin dat ons een geloof deel, een roeping het, een van siel en een van sin is, een God en Vader het, ens. Dit is ‘n eenheid wat slegs in vryheid gestalte kry en nie onder dwang nie en waarin die verskeidenheid in taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus, geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God. Maar dan wys die belydenis ook leerstellinge af waarin “sondige geskeidenheid’ (byvoorbeeld op grond van afkoms of enige ander menslike of sosiale faktore) so verabsoluteer word dat dit die eenheid van die kerk bedreig of verhinder.

Vir die NG Kerkfamilie vandag beteken die belydenis dat ons, ten spyte van die teenslae en jarelange gesloer, nie mag berus in ‘n verskeurdheid tussen broers en susters binne die een familie nie, maar dit onvermoeid moet najaag. Histories hoort ons byeen; ons deel dieselfde belydenis en roeping; prakties sou ons soveel meer kon vermag en mekaar kon verryk as ons een word; die geloofwaardigheid van ons getuienis in die wêreld  kan soveel baat by groter sigbare eenheid… maar, bely Belhar, dit gaan in die eerste plek om die één God, wat eenheid aan ons skenk, as gawe en opgawe… en tot troos.

4.2       Ware versoening

Weereens gaan dit eerstens om versoening as gawe uit God se hand, uit God se hart. Deur sy leweskeppende Woord en Gees het God die magte van sonde en dood, en daarom ook van onversoendheid, haat, bitterheid en vyandskap, oorwin. Binne die konteks van die 1980’s, waar soveel spanning en geweld hoogty gevier het, was hierdie belydenis dat die versoening in Christus sterker is as die natuurlike en kulturele verskille tussen gelowiges, nie ligtelik opgeneem nie.

Die boodskap van versoening is egter ook aan die kerk toevertrou; die kerk is as vredemakers in ‘n wêreld vol vyandskap geroep. Deur sy Woord en Gees stel die Here sy kerk in staat om in ‘n nuwe gehoorsaamheid te lewe, en so ook nuwe lewensmoontlikhede in die wêreld te bring. Indien die kerk dit byvoorbaat nie glo en uitleef nie, weerspreek ons eie lewe dan die waarheid van ons eie getuienis oor die versoening.

Hierdie versoening moet ook prakties uitgeleef en op allerlei maniere beliggaam word, in die kerk en in die wêreld. Daarom moet enige leer wat in die naam van die Evangelie gedwonge skeiding op grond van vrees, selfsug, ongeloof of op basis van ras en kultuur legitimeer – en so die versoenende krag van die evangelie byvoorbaat verloën – verwerp word. Deur die Woord en Gees is versoening moontlik, bely Belhar.

In die destydse konteks was dit nie so ‘n maklike saak om versoening te bely nie, ook nie vanuit die geledere van die ou NG Sendingkerk nie. Versoening kon maklik goedkoop gemaak word, ‘n oppervlakkige vergewe en vergeet. Ware versoening vra ‘n prys. Dit het Christus immers die kruis gekos! Die belydenis is dus soos ‘n tweesnydende swaard.  

Hierdie belydenis oor versoening is vandag, in ons toenemende verskeurde, bevreemdende, gewelddadige en moordlustige samelewing nog net so aktueel, indien nie meer so nie. Daarom bied die belydenis aan ons taal vir protes, maar ook woorde van troos: dis moontlik om teen alle teenstand in tog by egte versoening uit te kom, want Christus Jesus het die haat, bitterheid en vyandskap reeds oorwin.

4.3       Ontfermende geregtigheid 

Die derde inhoudsdeel begin by ‘n lofbetuiging oor hoe die Bybel die geregtigheid van God aan ons openbaar, as reddende geregtigheid, as ontfermende geregtigheid, wat bevry uit nood en reg laat geskied aan hulle wat veronreg word, wat vergewe, regverdig en heilig – wat sjaloom of kosmiese vrede laat deurbreek. Dit is geregtigheid wat nie los te maak is van God se liefde en trou nie.

Die mees omstrede formulering is dat God, in ‘n wêreld vol onreg en vyandskap op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en verontregte is en dat Hy sy kerk roep om hom hierin na te volg – dit op voetspoor van Psalm 146 en Lukas 4, maar ook Artikel 28 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Daarom kon Kerk en Samelewing in 1986 dit in Art 144 ook nie juis anders gesê kry nie: “God is immers by uitnemendheid die Een wat vir die saak van die noodlydende en verontregte intree”. Want, só openbaar die God van geregtigheid Homself.

God roep dan die kerk om Hom hierin na te volg, deur mense in enige vorm van nood en lyding by te staan, goed te doen en die reg te soek. Geregtigheid, barmhartigheid en aanbidding hoort byeen (Matteus 23:23). Maar die kerk word ook geroep om te getuig teen enige vorm van onreg en teen magtiges wat uit selfsug hul eie belang soek, oor andere beskik en hulle benadeel. Die legitimering van alle vorms van verontregting, ook vanuit die evangelie, moet afgewys word.

In ‘n wêreld waarin onreg en selfsug skynbaar die oorhand het, vind ons almal in hierdie belydenis taal vir protes (ons is immers Protestante!) en taal wat troos, wat ons daaraan herinner dat God ‘n toevlug en beskerming is in nood (Psalm 46). En wanneer ons moet handel oor die sensitiewe saak van regstellende geregtigheid, byvoorbeeld die sensitiewe saak van die herverdeling van grond, herinner Belhar ons dat dit nie gaan oor juridiese of filosofiese geregtigheid, restitusie of vergelding nie, maar oor ontfermende geregtigheid, geregtigheid wat heel maak en vrede bring.

5.         Is Belhar, naas die bestaande belydenisskrifte, nodig?

As Belhar so sterk steun op die bestaande belydenisskrifte, en, soos die Algemene Sinode lank reeds verklaar het, in ooreenstemming met die belydenisse en die Skrif is, is die vraag: is ‘n vierde belydenis regtig nog nodig? Bely die klassieke belydenisse dié sake dan nie alreeds genoegsaam nie? Hoewel in ooreenstemming met die klassieke belydenisse, bely Belhar tog méér, en núút, binne ons konteks. Die verskil is: die fokus in Belhar is nie net op wat ons oor die kerk se identiteit bely nie, maar veral ook op wat ons oor die kerk se roeping in die wêreld bely, hoe die kerk haar identiteit moet uitleef, sigbaar, konkreet, gehoorsaam. Belhar gaan dus veral oor hoe ons dit wat ons met die mond bely, ook sigbaar moet uitleef… miskien lê juis hierin die diepste ongemak met Belhar?

Geraadpleegde bronne:

Botha J en Naude P.  2010.  Goeie Nuus om te Bely.  Die Belydenis van Belhar en die Pad van Aanvaarding, Bybel-Media, Wellington.

Cloete GD en Smit DJ.  1984.  A Moment of Truth.  The Confession of the Dutch Reformed Mission Church 1982, Eerdmans, Grand Rapids.

Jonker WD.  1994.  Bevrydende Waarheid.  Die karakter van gereformeerde belydenis, Hugenote Uitgewers, Wellington.

Kerk en Samelewing, 1986, Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Naude P, 2012.  “The Belhar Confession and Church and Society: a comparative reading in five statements”, in Acta Theologica, Jaargang 32, Nommer 2.

Smit DJ.  – 2006.  Die Gereformeerde siening van Belydenis? Enkele algemene gedagtes. Ongepubliseerde artikel.

–  2011.  ‘n Blik op Eenheid, Versoening en Geregtigheid 1986 en 2011, Ongepubliseerde lesing by Fakulteit Teologie, UV, Bloemfontein (ook in Acta Theologica Jaargang 32, no. 2).

 Aantekeninge:

Gideon van der Watt – een van die bydraes as Gespreksdokumente met die oog op streeksaamtrekke van die NG Kerk in die Vrystaat, 4 – 6 Maart 2013.

EENHEID, VERSOENING EN GEREGTIGHEID – DIE KERNSAKE IN DIE BELYDENIS VAN BELHAR

Trackback from your site.

Comments (1)

Leave a comment

%d bloggers like this: