dien thoai di dong , dau gia , the gioi smartphone , download game mobile , smartphone , tang truong , khoa hoc cong nghe thong cong , mua ban sim , Smartphone gia re , cong nghe tuong lai , cong nghe 360 , giai tri guongmat.org , su kien trong ngay , thoi trang hi tech , thong tin 360 , may tinh bang , perfect body , kasuman.com , gia vang hom nay , tin tuc an toan , kinh te viet nam , xay dung viet nam , thoi trang , thoi trang , phu nu viet nam , tin tuc moi online , dich vu bao ve viet nam , bao ve viet nam , cong ty bao ve viet nam , tin tuc moi online , giai tri 24h , tin tuc 24h

Die Storie van Belhar

Written by Webmeester on . Posted in Ander bydraes

Print Friendly
Dit is die jaar 1982. Dis Oktober-maand en die sinode van die NG Sendingkerk vergader in die ruim nuwe kerkgebou van die SA Gestig-gemeente in Belhar (‘n voorstad van Kaapstad by Bellville-Suid). Die NG Sendingkerk is in 1881 gestig en is een van die vier kerke van die NG Kerkfamilie in Suid-Afrika. Dis die NG Kerk vir die kleurlinge (bruinmense). Die ander drie is die blanke Ned Geref Kerk (NGK); die Indiër Reformed Church in Africa (RCA) en die NG Kerk in Afrika (NGKA), waaraan al die swart lidmate van die NG Kerkfamilie behoort het.

Soos die NG Kerkfamilie verdeeld was op rassegrondslag, was dit ook die geval met mense in ons land. Wette het bepaal waar elke ras sal woon, waar hulle sou koop, hospitaal toe gaan, skoolgaan, universiteit toe gaan, met wie hulle sal trou en waar hulle op busse en treine sal ry. Die spanning hieroor was hoog in die land. ‘n Paar jaar tevore was daar landwyd groot onrus met skole-boikotte en geweld (Soweto-opstande 1976). Die onreg van die Apartheidsbeleid (Afsonderlike Ontwikkeling) aan mense wat nie-wit (nie-blank) was, het al meer in die openbaar tot protes, opstand en geweld gelei.

Die oorgrote meerderheid van afgevaardigdes na hierdie sinode van die Sendingkerk het hierdie beleid aan hulle lywe gevoel: hulle was al sedert die 60er jare uitgelewer aan gedwonge verskuiwings (ter wille van die vorming van rasgebaseerde woonbuurte); het hulle eiendomme verloor; is van hulle kerkgeboue vervreem; moes in die openbaar vernedering beleef; is weggewys van plekke oor hulle velkleur. Juis daarom, oor hierdie onreg en aantasting van menswaardigheid, het die vorige sinode van die NG Sendingkerk alreeds in 1978 apartheid verwerp as in stryd met die evangelie.

Hierdie onreg en gerugte van geweld het ook uitgekring na internasionale kerklike forums. ‘n Paar maande vroeër, in Augustus 1982, het die Wêreldbond vir Gereformeerde Kerke (WBGK) wat in Ottawa, Kanada, vergader het (en waarvan die onderskeie kerke van die NG Kerkfamilie lede was), oor hierdie toestand ‘n status confessionis afgekondig. Daarmee het hulle bedoel dat die beleid van apartheid die waarheid van die evangelie in gedrang gebring het – soveel so, dat die Christelike belydenis op die spel was. Soveel te meer was dit waar omdat dit juis die wit Afrikaanse Gereformeerde Kerke, soos die NG Kerk (ook die Moederkerk genoem) was wat hierdie beleid teologies help ontwerp en ondersteun het. Die WBGK het geoordeel dat die beloftes van God vir sy wêreld en vir sy kerk direk in stryd is met die ideale en praktyk van apartheid.

Hierdie “staat van belydenis” wat die WBGK afgekondig het, het as deel van die agenda by die sinode van die NG Sendingkerk op die 1ste Oktober 1982 in Belhar gedien. Nadat die sinode hierdie staat van belydenis aanvaar het, nou ook as hierdie sinode se eie standpunt, is daar egter besluit om ‘n stap verder te gaan, naamlik om ‘n belydenis hieroor te verwoord, wat dan voor die sinode sou dien.

‘n Kommissie is benoem om die sinode met ‘n bewoording van so ‘n belydenis te bedien. As lede tot hierdie kommissie is verkies: prof Gustav Bam (voorsitter), ds Sakkie Mentor (moderator), dr Allan Boesak (assessor) en twee dosente aan die Universiteit van Wes-Kaap, naamlik prof Jaap Durand en dr Dirkie Smit.

Op Woensdag 6 Oktober 1982 is ’n konsep belydenis aan die sinode voorgelê en, saam met ‘n Begeleidende Brief om die hele ontwikkeling van die saak te verduidelik, is die konsep belydenis deur die sinode aanvaar. By die volgende Algemene Sinode van die NG Sendingkerk in 1986, is die konsep belydenis aanvaar as volwaardige vierde belydenisskrif van die Sendingkerk. Voortaan sou dit bekend staan as die Belydenis van Belhar.

Die Inhoud van Belhar

Die Belydenis van Belhar bestaan uit ‘n inleidende paragraaf, drie artikels en ‘n slotparagraaf.

Die inleiding gaan eenvoudig en duidelik oor “ons geloof in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.”

Die eerste artikel gaan oor die eenheid van die kerk. Hierdie eenheid moet sigbaar wees aan die wêreld sodat die integriteit van ons geloof aanvaar sal word. Die geskeidenheid van die NG Kerkfamilie op grond van ras was ‘n onhoudbare (sondige) praktyk. Daarom is die eenheid van die kerk as hoë prioriteit bely en stel die artikel onder andere: “Ons glo dat die versoeningswerk van Christus sigbaar word in die kerk as die geloofsgemeenskap van diegene wat met God en onderling met mekaar versoen is.”

Die tweede artikel beklemtoon die boodskap van versoening wat aan die kerk gegee is om onder meer die sout en die lig in die wêreld te wees; dat die kerk salig genoem sal word, omdat hulle vredemakers is; dat die kerk deur woord en daad getuies is van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon…

Die derde artikel gaan oor geregtigheid: dat “ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ‘n wêreld vol onreg en vyandskap op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en verontregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg.”

Die belydenis eindig met die slotparagraaf, waarin die kerk opgeroep word om “dit alles te bely en te doen in gehoorsaamheid aan Jesus Christus sy enigste Hoof, al sou ook die owerhede en verordeninge van mense daarteen wees en al sou staf en lyding daaraan verbonde wees.”

Die Ontvangs van Belhar deur die NG Kerk

Vir die NG Kerk, wie se lidmate hulle aan die ander kant (die bevoorregte kant) van apartheid in Suid-Afrika bevind het, was die Belydenis van Belhar nie sonder meer aanvaarbaar nie. Trouens, daar was groot ontsteltenis en sterk teenkanting teen die belydenis.

So skryf Piet Naude hieroor in Goeie Nuus – om te bely (2010): “Die jaar 1982 was ‘n waterskeidingsjaar. Die NGK se skorsing as lid van die WBGK tydens die Ottawa-vergadering weens die status confessionis (staat van belydenis) oor die teologiese steun aan apartheid was ‘n harde slag. Ons is lidmaatskap ontsê aan die grootste (meer as 60 kerke) en oudste (gestig in 1877) gereformeerde ekumeniese liggaam in die wêreld. Dit was vir die afgevaardigdes na Ottawa en die latere Algemene Sinode van 1982 ‘n pynlike ervaring.” P 94

Maar die ontsteltenis was nie eenstemmig en eensydig nie. Die spanning oor die NG Kerk se ondersteuning en regverdiging van apartheid het nuwe hoogtepunte in eie geledere bereik.

So verskyn daar byvoorbeeld alreeds op 31 Oktober 1980 die Hervormingsdag Getuienis van agt teoloë waarin sterk protes vanuit die NG Kerk op die kerk se apartheidsteologie uitgespreek word.

In dieselfde jaar vergader die sinode van die RCA (Indiër-kerk) en neem standpunt in teen: die Wet op Gemengde Huwelike; die Groepsgebiedewet; die Ontugwet; Aanhouding sonder verhoor; die Driekamer-parlement.

In die volgende jaar (1981) verskyn die publikasie, Stormkompas, wat 12 opstelle bevat en 44 stellings van teoloë uit NG Kerkfamilie-geledere wat protes aanteken teen die teologiese regverdiging van apartheid.

Op 9 Junie 1982 verskyn daar in Die Kerkbode ‘n Ope Brief aan die NG Kerk van 123 NG Kerk gelegitimeerdes, wat hulle protes teen apartheid verwoord. En met toenemende druk van kerke in die buiteland, vind die Algemene Sinode van die NG Kerk vanaf die 12de Oktober 1982 in Pretoria plaas, waar daar ‘n konserwatiewe gees heers. Dit was een week ná die Belhar-sinode van die NG Sendingkerk. Daar word protes aangeteken teen die WBGK se status confessionis en verwerping van apartheid, ofskoon daar ook in ‘n ander besluit duidelik standpunt ingeneem word teen alle rassisme as sonde en onskriftuurlik. By hierdie sinode word ‘n kommissie benoem vir die skryf van ‘n nuwe beleidsdokument oor rasse- en volkere-verhoudings – wat as die beleidsdokument Kerk en Samelewing by die sinode van 1986 aanvaar sou word.

Nuwe fase in die NG Kerk oor apartheid en Belhar

In hierdie opsig was die volgende Algemene Sinode in 1986 ‘n belangrike sinode wat ‘n nuwe rigting vir hierdie kerk en apartheid aangedui het. Met die aanvaarding van Kerk en Samelewing as amptelike beleid van die NG Kerk word nou verklaar dat lidmaatskap van die NG Kerk vir alle rasse oop is, groot klem word gelê op die ideaal van sigbare eenheid in die NG Kerkfamilie en die apartheids-ideologie word as onskriftuurlik afgewys. Trouens, in paragraaf 306 erken die kerk dat apartheid verkeerd was:

Die Ned Geref Kerk is oortuig dat die hantering van apartheid as ‘n politieke en maatskaplike sisteem wat mense verontreg en een groep onregmatig bo ‘n ander bevoordeel, nie op Christelike-etiese gronde aanvaar kan word nie, omdat dit in stryd is met die beginsels van naasteliefde en geregtigheid en onafwendbaar die menswaardigheid van almal wat daarby betrokke was, aantas.”

Op hierdie selfde sinode is wel krities kennis geneem van die verskyning van die SA Kairos-dokument van 150 teoloë en kerkleiers in die vorige jaar (1985). Hierdie dokument was gerig teen ‘n “Staats-teologie” wat die Bybel misbruik vir ‘n (politieke-staatkundige) stelsel (apartheid) van onreg: die onderdrukking van magteloses en stemloses – die aantasting van hulle menswaardigheid. In daardie tyd het die NG Kerk sigself nog volledig vereenselwig met die Grensoorlog en die ondersteuning van die troepe in hulle stryd teen die kommunisties-ondersteunde ANC en SWAPO. Dus het die 1986 Algemene Sinode, ten spyte van die aanvaarding van Kerk en Samelewing, tog besluit om die Kairos-dokument as bevrydingsteologie, of swart teologie, te verwerp op grond van die feit dat dit “’n onrusbarende stimulus is vir voortgesette onversetlike polarisering en geweld.”

Die mees dramatiese gevolg van die 1986 Algemene Sinode vir die NGK, was egter die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) uit protes teen die aanvaarding van Kerk en Samelewing en ongeveer 40,000 lidmate en 100 predikante van die NG Kerk gaan oor na die APK.

‘n Nuwe Land – ‘n Nuwe Fase vir die Kerke

Die volgende stap in die geskiedenis van die ontvangs van die Belydenis van Belhar in die NG Kerk sou by die volgende Algemene Sinode in Oktober 1990 in Bloemfontein geneem word.

Dit is die jaar van die vrylating van Nelson Mandela en die ontbanning van die ANC en PAC. Almal besef dat Suid-Afrika ‘n nuwe fase op staatkundige gebied betree het – en dat die apartheidsbeleid ‘n verleentheid geword het.

Vroeër dieselfde jaar roep die Suid-Afrikaanse president, mnr FW de Klerk, kerkleiers byeen by Rustenburg om oor hierdie nuwe fase te besin. Daar gebeur die merkwaardige (en onbeplande): prof Willie Jonker (dogmatikus van die Universiteit van Stellenbosch) bely namens die NG Kerk skuld vir die kerk se ondersteuning van apartheid. Biskop Desmond Tutu van die Anglikaanse Kerk reageer met vergifnis aan die kerk, terwyl die amptelike verteenwoordigers van die NG Kerk se Algemene Sinodale Kommissie (ASK) na hierdie beraad vir Jonker hierin in die openbaar ondersteun.

Dis teen hierdie agtergrond dat die Algemene Sinode later dieselfde jaar vergader. Hier word daar nou nog sterker formulerings aanvaar vir die afwysing van apartheid as sonde, maar ook die erkenning van die NG Kerk se aandadigheid daaraan: die kerk se rol in die ontstaan van apartheid. By hierdie sinode word besluit dat die Belydenis van Belhar nie onskriftuurlik is nie en nie in stryd met die Drie Formuliere van Eenheid (die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dortse Leerreëls), wat die belydenisgrondslag van die Gereformeerde kerkfamilie is, nie.

Die volgende twee Algemene Sinodes van die NG Kerk (1994 en 1998) sou die kerk se verwerping van apartheid nog sterker in fokus bring.

Maar, vóór dit, in April 1994 (die 14de) vind daar nog ‘n merkwaardige gebeurtenis plaas. ‘n Nuwe vereniging binne die NG Kerkfamilie (wel sonder die NG Kerk en die RCA) ontstaan, toe die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika saamsmelt om die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) te vorm. By hierdie eerste Algemene Sinode van die VGK word die Belydenis van Belhar dan ook aanvaar as ‘n vierde belydenisskrif van hierdie verenigende kerk. Daar word groot klem gelê op die keuse vir die woord “verenigende” in plaas van “verenigde” in die kerk se naam. Daarmee wou die VGKSA aandui dat die verenigingsproses nog nie voltooi is nie, aangesien die NG Kerk en die RCA nog nie daarvan deel is nie. Die begeerte tot hereniging van die NG Kerk (juis ook op grond van die Belydenis van Belhar se klem op die eenheid van die kerk), sou hiermee as ideaal gestel word.

Ter wille van volledigheid (en duidelikheid vir die verdere verhaal) moet genoem word dat ‘n deel van die NGKA nie met hierdie vereniging saamgegaan het nie en bly voortbestaan het met die oorspronklike benaming van NG Kerk in Afrika. Met inagneming van die RCA, het die NG Kerkfamilie in Suid-Afrika dus nog steeds bestaan uit vier afsonderlike kerke.

Later dieselfde jaar (1994) by die volgende Algemene Sinode van die NG Kerk, word president Nelson Mandela die eerste staatshoof wat die Algemene Sinode in sitting besoek en hier bely die sinode sy skuld aan apartheid teenoor die president. Ook word skuld teenoor persone in eie geledere, soos drs Beyers Naude en Ben Marais, bely.

By die Algemene Sinode van 1998 verklaar die NG Kerk dat hy wil meewerk aan die nuwe Suid-Afrika en gemeentes in die staatkundige oorgangstyd wil begelei. ‘n Radikale besluit, dat apartheid in wese sonde is, word aanvaar. Die NG Kerk wil uitsluitlik kerk van Jesus Christus wees, wat “koninkryksdiens wil lewer sonder aansien van persoon” en wil konsentreer op die profetiese roeping van die kerk in SA.

Die Nuwe Millennium bring Nuwe Hoop… en Wanhoop vir Belhar

Die begin van die nuwe millennium (2000) sou ‘n verdere versnelling in die NG Kerkfamilie se begeerte tot eenheid inlui. In hierdie proses sou die Belydenis van Belhar in ‘n wisselende mate ‘n struikelblok wees. Die aandrang van die VGK dat Belhar deel sal wees van die proses van hereniging met die NG Kerk en die RCA, sou as struikelblok nommer een deur die NG Kerk benoem word.

Hierdie situasie van spanning is egter op dramatiese manier in Junie (22-24) 2006 by Esselenpark deur die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) van die VG Kerk, waar die twee leiergroepe van die NG Kerk (Algemene Sinode Moderamen, of ASM) en VG Kerk (ASK) afsonderlik op dieselfde perseel vergader het, ontlont. In ‘n gesamentlike byeenkoms op die laaste dag van die vergaderings, het die VGK die aanvaarding van Belhar deur die NG Kerk as voorwaarde vir die voortgang van die eenheidsproses, laat vaar. Van die NG Kerk se kant is onderneem dat daarna gestreef sal word dat Belhar tog as vierde belydenis deel sal vorm van die verenigde kerk se belydenisgrondslag, op so ‘n wyse dat lidmate nie gedwing sal word om dit te aanvaar nie – en dat daar ‘n begeleiding van lidmate in die NG Kerk sal plaasvind vir die verstaan en volledige aanvaarding van die Belydenis van Belhar.

Die twee leiergroepe van die kerke het hierdie geleentheid gevier met ‘n Verbondsverbintenis tot Eenheid en het so ná ‘n gesamentlike afsluiting, hoopvol verdaag.

Die presiese bewoording van die Verbondsverbintenis tot Eenheid was verrassend positief en grootliks optimisties:

Ons aanvaar die uitdaging om binne drie jaar een verenigde kerk te wees. In dié verband mag die Belydenis van Belhar nie as voorwaarde vir eenheid geld nie. Die boodskap van Belhar sal steeds vir ons die inspirasie en gids wees vir beide die proses tot en die formasie van die nuwer kerk. In lyn met die besluite van beide die kerke sal die Belydenis van Belhar ‘n volwaardige belydenisskrif van die nuwe kerk wees en sal ons saamwerk om die kerk te help om te groei tot ‘n volledige aanvaarding van die belydenis. Ons sal die besluit vir volledige goedkeuring na ons volgende sinode neem.

Hierdie uitkoms is ook oorgedra aan die leierskap van die NGKA en RCA by ‘n ontmoeting tussen die moderature van al vier kerke van die NG Kerkfamilie in Augustus van dieselfde jaar (2006). Na aanvanklike ongelukkigheid omdat hulle nie ook deel was van die gebeure by Esselenpark nie, het die moderature van die NGKA en RCA hulle ook vereenselwig met die Verbondsverbintenis.

Hierdie toedrag van sake is in November 2006 oorgedra by die ontmoeting van die nasionale leierskap van al vier kerke by Achterberg (Krugersdorp). Teen daardie tyd is hierdie gebeure ongelukkig op verskillende maniere in die kerke beskou. In die VGK-geledere was daar byvoorbeeld ongelukkigheid oor die “opsionele” karakter wat die Belydenis van Belhar hierdeur kon kry. In die NG Kerk weer, was dit duidelik dat die verandering van die belydenisgrondslag van die kerk eers kon plaasvind nadat volledig aan alle kerkordelike prosesse voldoen is. Die RCA en NGKA wou die begeleiding tot die uiteindelike aanvaarding van Belhar nie ondersteun nie. Van die NG Kerk-afgevaardigdes het hulle by die RCA en NGKA geskaar.

Teen die tyd dat die tweede gesamentlike konferensie by Achterberg in April 2007 gehou is, was dit duidelik dat ‘n vertrouensbreuk gegroei het – en is die optimisme vir ‘n spoedige hereniging van die kerke (binne drie jaar) vervang met ‘n realisme dat daar nog heelwat meer gesprek sou moes plaasvind.

As gevolg hiervan – en nadat die groeteboodskap van die moderator van die NG Kerk by die volgende Algemene Sinode van die VGKSA by Hammanskraal in 2008 as beledigend ervaar is – plaas die VGK ‘n moratorium op verdere eenheidsgesprekke met die NG Kerk.

Die huidige Stand van Sake met Belhar

Met hierdie impasse in die eenheidsproses as ‘n verlammende realiteit, besluit die NG Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland om die hele saak van die Belydenis van Belhar op ‘n heel ander manier te hanteer. Dit het as ‘n oortuiging by die moderatuur begin (en toe uitgebrei na die moderamen van die sinode), dat die aanvaarding al dan nie van die Belydenis van Belhar eers losgemaak moet word van die eenheidsproses. Die meriete van die belydenis as uitdrukking van ons geloof in ons huidige tyd in Suid-Afrika behoort weer oorweeg te word teen die agtergrond dat die Algemene Sinode van die NG Kerk alreeds meer as twee dekades gelede verklaar het dat Belhar “nie onskriftuurlik en nie strydig met die Drie Formuliere van Eenheid” is nie (1990). Ongeag of die kerke struktureel verenig of nie, gaan dit oor ‘n teologiese beoordeling van die belydenis vir ons lewe as ‘n kerk in Suid-Afrika.

Na indringende oorweging besluit die sinode van die NG Kerk in Wes-en-Suid-Kaapland in Mei 2011 om as vergadering die Belydenis van Belhar te aanvaar en die Algemene Sinode te versoek om kerkordelike prosesse aan die gang te sit met die oog op die aanvaarding van Belhar.

In Oktober dieselfde jaar (2011) besluit die Algemene Sinode van die NG Kerk in Boksburg dan inderdaad en oorweldigend om te begin met die kerkordelike proses vir die aanvaarding van die Belydenis van Belhar.

Intussen het die eenheidsproses tussen die vier kerke van die NG Kerkfamilie, met fasilitering deur die World Communion of Reformed Churches (die opvolger van die WBGK sedert Junie 2010) in die persoon van dr Jerry Pillay, tussen 2011 en 2012 weer op dreef gekom en konstruktief gevorder. Daar is inderdaad weer nuwe hoop op die hereniging van die NG Kerkfamilie in die volgende jare, terwyl die kerkordelike proses vir die aanvaarding van die Belydenis van Belhar nou ook in die NGK begin is.

Ben du Toit

Trackback from your site.

Comments (1)

  • Sarel Corrie

    |

    Die storie van Belhar deur Ben du Toit. By die deurlees van hierdie stuk kom ek agter hoe eensydig die storie van Belhar hier voorgestel word. Niks van die worsteling en die stryd rondom die aanvaarding daarvan deur die NGSK en die NGKA en toe ook by die VGKSA nie? Niks van die dwang van die VGKSA om die NGKA deel te maak van die VGKSA nie? Niks van die VGKSA se pogings om die NGKA te diskrediteer nadat hulle die hofsaak teen die NGKA in die appelhof verloor het nie. Ook niks van die bilaterale samesprekings van die VGKSA en die NGK oor kerkeenheid nie, en toe daar oproepe kom om die NGKA wel toe te laat, toe stap die VGKSA onder leiding van ds James Buys uit! En dit alles in die naam van en onder aanvoering van Belhar. Ek het hom persoonlik daaroor in hierdie vergadering gevra en hy het my nooit geantwoord nie. Wel, Belhar het toe nie so maklike, eenvoudige en meesterlike rol gespeel soos wat julle hier voorgee nie.

    Net op ‘n regs-tegniese punt. Die VGKSA bestaan uit die NGSK (wat volledig oorgegaan het) en ‘n lidmate van die NGKA wat hulleself met die VGKSA vereenselwig het. Die NGKA het nie oorgegaan in of opgegaan in die VGKSA nie (die appelsaak het dit duidelik uitgewys). Daarom kan die eiendomme van die NGKA nie in die naam van die VGKSA hergeregistreer word nie. Want die NGKA het nie opgegaan in die VGKSA nie!

    Kom ons praat ‘n slag eerlik oor die verlede en nie vanuit ‘n idealistiese utopiese uitgangspunt nie!

    Hartlike groete

    Reply

Leave a comment

%d bloggers like this: