dien thoai di dong , dau gia , the gioi smartphone , download game mobile , smartphone , tang truong , khoa hoc cong nghe thong cong , mua ban sim , Smartphone gia re , cong nghe tuong lai , cong nghe 360 , giai tri guongmat.org , su kien trong ngay , thoi trang hi tech , thong tin 360 , may tinh bang , perfect body , kasuman.com , gia vang hom nay , tin tuc an toan , kinh te viet nam , xay dung viet nam , thoi trang , thoi trang , phu nu viet nam , tin tuc moi online , dich vu bao ve viet nam , bao ve viet nam , cong ty bao ve viet nam , tin tuc moi online , giai tri 24h , tin tuc 24h

Die belydenis van Belhar – getuienis, stok, staf, credo?

Written by Webmeester on . Posted in Ander bydraes

Print Friendly
Die besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk in Oktober 2011 was ‘n beslissende moment op die pad waarlangs die NG Kerk al sedert 1982 – dit is drie dekades gelede – met die Belydenis van Belhar aangekom het.  Nou is dertig jaar nie baie in die lewe van ‘n credo of belydenisskrif nie: die Apostolicum het oor selfs drie eeue gegroei en van Heidelberg se Kategismus na Dordt se Kerkorde het meer as ‘n halfeeu geneem.  En dít is die eintlike konteks waarbinne Belhar geweeg moet word: die “familie” van ons belydenisskrifte; groot geselskap, in der waarheid.

Sewe opmerkings kan ons gesprek hieroor, help:

1.         Die belydenisgrondslag van die NG Kerk dra ‘n verskeidenheid van simbole en skrifte, elk na hul eie aard, struktuur en funksionering.

Ons bely in verbondenheid met die Christelike kerk van alle eeue (wel nie alle oorde!), ons Christelike geloof soos dit uitgedruk word in drie ekumeniese belydenisse of simbole, te wete die Apostolicum, Nicea en Athanasius.  Hierdie drie simbole – in ooreenstemming met die leer van die apostels, die Skrif – is kort en kragtige uitdrukkings van ons Christelike geloof, omdat dit in die eerste eeue met daardie bedoeling tot stand gekom het: dit wou in die liturgie en aanbidding van die kerke funksioneer, met name by die bediening van die sakramente.

Verder bely ons in verbondenheid met die gereformeerde kerke uit die Reformasie, ons Christelike geloof soos dit uiteengesit word in drie skrifte of formuliere van enigheid, te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), die Heidelbergse Kategismus (HK) en die Dordtse Leerreëls (welwetende dat daar ook bykans ‘n honderd ánder sulke skrifte in die Reformatoriese tradisie leef).  Hierdie drie skrifte is omvattende en breedvoerige uiteensettings van die teologiese oortuigings wat in die sestiende eeu in die Skrif herontdek is en tot ‘n hervorming van die kerke gelei het.  In hierdie opsig verskil hulle van die ekumeniese simbole, maar hulle verskil ook onderling van mekaar in aard, struktuur en funksie: die NGB se 37 artikels was eerstens ‘n moedige getuienis, die HK ‘n boek vir troosryke onderrig oor 52 Sondae versprei, en die DL ‘n skerpsinnige standaard van 5 reëls vir ‘n suiwer uitleg van die verlossingsleer.

2.         Daar loop ‘n gedeelde gerigtheid deur hierdie simbole en skrifte, al het elk ook ‘n eie skopus en seggenskrag na die belydenisgrondslag van die NG Kerk gebring.

Elkeen van die drie simbole en drie skrifte in ons belydenisgrondslag het ‘n eie skopus en seggenskrag – daarom dat ons al ses ontvang het en steeds behou.  Dat daar ‘n gedeelde gerigtheid deur hul algar loop, herken ons dadelik en dit is waarom ons hulle steeds met ‘n “ja” by ons handtekening onderskryf:

  • die Trinitariese belydenis oor God – ons Vader, Verlosser en Vertrooster – is in die grondstrukture van hierdie simbole en skrifte ingebed;
  • die primaat van die geopenbaarde Woord van God – in sy Skepping, Seun en Skrif – word bely; en
  • juis daarom herinner hierdie simbole en skrifte ons aan die omvattende appél van God op ons ganse lewe vóór Hom en mét mekaar; liefde vir God en liefde vir die naaste; versoening met Hom en met mekaar; beginnende by eersgenoemde en met onlosmaaklike konsekwensie vir laasgenoemde.

En tóg het elkeen van die simbole en skrifte dit op ‘n ander manier kom sê, anders sou die Christelike Kerk maar net by die Nuwe Testamentiese belydenis dat “Jesus die Here is” kon bly staan, òf by die Apostolicum.  Maar daar het groei gekom, voortgang, uitbreiding.  Byvoorbeeld: In gegewe omstandighede het gereformeerde kerke gevra dat daar by Dordt méér gesê moet word – uitvoerig verduidelik moet word – oor dit wat in die Kategismus uit Heidelberg op Sondag 7 en 21 net vermeld word, naamlik die leer van God se genadige verkiesing van sondaarmense.

3.         Die simbole en skrifte in ons belydenisgrondslag dra die merke van die tyd en kontekste waarin hulle gebore is, én het dit oorleef.

Nie een van die drie simbole en drie skrifte in ons belydenisgrondslag kan getrou aan die gees en bedoeling daarvan vertolk – en bely! – word sonder ‘n diepgaande inagneming van die tyd en konteks waarin dit ontstaan het nie.  Op daardie geboortegronde het daar vanweë die vervlegtheid van kerk en samelewing ‘n verskeidenheid van kerklik-teologiese- en sosio-politieke faktore ingespeel en was die status confessionis – die kairos-uur vir kerke – veelkantig en kompleks.  Dít is waarom hierdie simbole en skrifte geboortemerke dra en vandag steeds hul moedertaal praat en aan ‘n vaderland herinner.

Dat hierdie simbole en geskrifte egter vertaal kon word en in ander kontekste en eeue herken is as ‘n belydenis van ons Christelike geloof oor heel spesifieke sake, maar in ooreenstemming met die Skrif – dít het van hulle konfessie gemaak.  Kontekstueel, maar tydloos.  ‘n Stok en ‘n staf om mee te gaan in ‘n wêreld wat anders geword het, en tog in sy verlorenheid steeds na die enigste Weg, Waarheid en Lewe verlang – ‘n Verlosser.  In kerk en staat, huis en haard.

4.         In hul oorspronklike tyd en konteks, en óók deur die eeue, het hierdie simbole en skrifte ‘n verdelende- én verenigende effek gehad.

Die geboorteverhale van al drie simbole en al drie skrifte in die belydenisgrondslag van die NG Kerk, spreek van verdeling en vereniging; van keuses wat gemaak moes word oor aan Wie ons meer gehoorsaam moet wees.  Dit het in kontekste en tye van konfrontasie gekom, van dwaalleer en misleiding, van vervolging en ‘n vraag na wat die Waarheid van die Woord is.  In daardie omstandighede het dit die opstellers daarvan gedwing tot ‘n ondersoek van die Skrif en ‘n eerlike spreke teenoor die gees van die tyd, teenoor maghebbers en tiranne, teenoor sisteme van verdrukking, teenoor die verdraaiing van die Woord om eie voorkeure en opvattings te regverdig.  Elkeen van hierdie simbole en skrifte het daarom afgegrens en tot ‘n skeiding van die weë gelei.  ‘n Belydenis is skerp, tweesnydende swaard.

Maar daarin lê juis ook die genesing.  Terselfdertyd het hierdie belydenisskrifte en simbole ook verenig en bymekaargebring hulle wat nie uit innerlike oortuiging nie, maar deur die Gees en Woord gelei is tot ‘n nuwe verstaan van Wie God is en waar en hoe Hy in sy genade werk.  Hulle kon mekaar as broers en susters ontdek en leer ken en liefkry.  Hul één belydenis dat Jesus die Here is – van die Apostolicum tot Dordt – het hulle bemoedig en ‘n gesamentlike profetiese stem teen die dwalinge van die tyd in leer en lewe, gegee.

5.         Die Belydenis van Belhar is ‘n getuienis oor gister

Die geboortegrond van die Belydenis van Belhar was Suid-Afrika van die sewentiger- en tagtigerjare van die vorige eeu: ‘n land verskeur, en in die greep van ‘n bose ideologie.  Die bediening van die Woord – die goeie tyding van God wat regeer en verlos en genees – is in alle kerke in daardie konteks deur die omstandighede geraak; in sommige gevalle was dit sigbaar in die stryd waarin kerke gewikkel was, in ander gevalle in die ontkenning van en ontvlugting uit daardie omstandighede.  Alhoewel die NG Kerk oor dekades met hierdie realiteit geworstel het én daar die stemme van enkelinge, maar by geleentheid ook van vergaderings van NG Kerke teen hierdie ideologie opgegaan het – dink aan Bennie Keet, Ben Marais en Willie Jonker; die Cottesloe-beraad (1960); die Hervormingsdag Getuienis (1980) en die Ope Brief (1982) – was dit ‘n “dogter uit ons midde” wat haar stem hieroor laat hoor het, nie maar net as ‘n protes nie, maar as ‘n getuienis van die waarheid van God se Woord ín hierdie omstandighede.  ‘n Belydenis dat die waarheid inderdaad op die spel is: die waarheid van wat ons onder andere in Sondag 21 van die HK bely oor wat ons van die “een, heilige, algemene Christelike Kerk” glo, om die Apostolicum aan te haal.

Hierdie getuienis – Belhar – het in ons land ‘n sjibbolet oor gister geword: hoe dink en praat ons regtig, in die stilte van ons harte en om die kaggelvuur van ons binnekamer met ons kinders en kleinkinders, oor wat in hierdie land gebeur het?

6.         Die Belydenis van Belhar is ‘n stok en ‘n staf vir vandag

Die lewensomstandighede en wêreld waarin die Belydenis van Belhar sedert 1982 geleef het, en vandag steeds in ons midde lê – hier in Suid-Afrika, maar ook globaal – is steeds ‘n konteks van onbehaaglike verdeeldheid, onheilspellende onversoendheid en skreiende onreg.  Aan hierdie werklikheid kan kerke hulle nie onttrek of van ontvlug nie – hetsy na die buiteland òf na een of ander goedvoel-godsdiens – want dit gaan steeds om dieselfde Blye Boodskap, en dieselfde troos dat ek met liggaam en siel aan die Here Jesus Christus behoort, daarin dat ek aan sy liggaam behoort, wat tans bedreig word.  Dit wat rondom ons gebeur, raak die hart van wat ons van die kerk glo; dit eggo die onlosmaaklike band tussen soteriologie en ekklesiologie.

Die taal en woorde van Belhar – in samespraak met die drie simbole en drie skrifte in ons belydenisgrondslag – help ons ontdek dat dit in hierdie konteks en tyd nie om randsake gaan nie, maar inderdaad om die hart van die Evangelie.  Om die appél van God op ons ganse lewe.  Heil vir die hele wêreld.  Abraham Kuyper se beroemde woorde: Daar is geen duimbreed van hierdie wêreld, waarvan Christus nie sê, ‘Dit is Myne’ nie.

7.         Daarom: die Belydenis van Belhar as ‘n credo na môre

Die aard, struktuur en funksionering van die Belydenis van Belhar is net so uniek as die ander drie simbole en skrifte in ons belydenisgrondslag.  Die inhoud van die Belydenis van Belhar sê ook iets unieks – dit dra geboortemerke, praat ‘n moedertaal en kom uit ‘n vaderland.  Maar, die Woord van God en ons erfenis aan simbole en belydenisskrifte word daarin herken – dít het die Algemene Sinode van 1998 al gesê.  Daarom is die Belydenis van Belhar ‘n waardige metgesel in die groot geselskap van ons drie ekumeniese simbole en drie gereformeerde belydenisskrifte.

Net soos die ander egter, kan ‘n credo nie afgedwing word nie – dán verdeel dit net.  ‘n Credo groei, neem tyd, oortuig van binne-uit.  Dít is hoe dit genees.  En dit is op dié weg dat ons na mekaar sal moet luister, van mekaar moet leer, mekaar by die hand vat en op die weg wat God ons lei, gaan.

Aantekeninge:

Jan Lubbe – een van die bydraes vir die Gespreksdokumente met die oog op streeksaamtrekke van die NG Kerk in die Vrystaat, 4 – 6 Maart 2013.

DIE BELYDENIS VAN BELHAR – GETUIENIS – STOK EN STAF – CREDO

Trackback from your site.

Leave a comment

%d bloggers like this: