dien thoai di dong , dau gia , the gioi smartphone , download game mobile , smartphone , tang truong , khoa hoc cong nghe thong cong , mua ban sim , Smartphone gia re , cong nghe tuong lai , cong nghe 360 , giai tri guongmat.org , su kien trong ngay , thoi trang hi tech , thong tin 360 , may tinh bang , perfect body , kasuman.com , gia vang hom nay , tin tuc an toan , kinh te viet nam , xay dung viet nam , thoi trang , thoi trang , phu nu viet nam , tin tuc moi online , dich vu bao ve viet nam , bao ve viet nam , cong ty bao ve viet nam , tin tuc moi online , giai tri 24h , tin tuc 24h

Belydenisvorming en Belydenisskrifte in Reformatoriese perspektief

Written by Webmeester on . Posted in Ander bydraes

Print Friendly
Wie wil praat oor die proses van belydenisvorming in Reformatoriese perspektief, kan dit nie by wyse van ‘n sydelingse opmerking doen nie.  Daarvoor is die hele verskynsel van belydenis- en belydenisvorming struktureel en inhoudelik te diep verwortel in die teologiese vertrekpunte en oortuigings van die Reformasie [1]. Wie díe verskynsel toereikend probeer peil, moet die verskillende perspektiewe wat deur die ‘innesteling’ geïmpliseer word, verreken.


Belydenisse is leerbeslissings wat uit die konflik van interpretasie gebore is.  Dit wil antwoord gee om die vraag na die ‘gelaat’ van die waarheid, die ‘herkenbaarheid’, die kongruensie van die Goeie Nuus van die eeue en dit wat in elke konkrete hede bely, beleef, gepreek [2] en gepraktiseer (behoort  te) word.  Daarom word die proses van belydenisvorming gekenmerk deur luisterend na die Woord, denkend in gemeenskap met die vaders en die broers /moeders en die susters, te soek na geloofsverstaan en lewenspraktyk waarin die Evangelie as die ou ou tyding núút gehoor word. (Vgl 1 Joh 2: 7,8  waar die nuwe die verrassende ‘weerkoms’ van die oue is.)

In die herbesoek van die (geloofs)bronne, waarin daar ‘terugkruip’ word in die oorsprong in, word die geloofsantwoord (belydenis)  na vore geroep as daad van hoogste verbintenis (waarby die belydenisgemeenskap staan en val).  Hierdie geloofsantwoord (belydenis) is tegelyk die daad van hoogste vryheid.  Niemand kan/ behoort gedwing te word tot belydenis as dít wat belydend onder woorde gebring word, hom/haar/hulle nie daartoe omhaal nie.

Wanneer die waarheid van die Evangelie so onder druk gekom het dat dit verduister word en dreig om in ‘n ‘ander Evangelie’ te ontaard, dan is die prediking van die waarheid ‘n oorrompelende mag onder aanhoor waarvan jy nie kan swyg nie – dit is nie die kreatiwiteit en probleemoplossende moontlikhede van die mens wat belydenisse tot gevolg het nie, maar die bevrydende krag van die gepredikte Woord wat in die greep van die Gees beslag lê op die hoorders.  In hierdie sin is belydenis werklik en letterlik confessio, saam-erken, saam-sê dat ons oorléwing in ‘n gegewe situasie nie ons eie werk is nie, maar dat ons bestaan ‘n  bestaan-in-ontvangs is.

Onder die appél van die waarheid kom leerbeslissings tot stand wat self aanspraak daarop maak dat waarheid-as- bestaanshulp daarin verwoord word, egter met dié voorbehoud daarby dat geen menslike insig en formulering uitgesluit kan word van herbesinnig nie.  In die her-denking van die heil is dit nie ons greep op die waarheid wat sorg dat daar grond onder ons voete is nie, maar die bestendigheid en trou van God wat oproep en bemagtig tot groeiende en ontwikkelende geloofsverstaan.

Dat belydenisse hersien, aangevul en selfs as aandrang kan funksioneer tot nuwe verwoording van wat ons glo, maak nie die proses betekenisloos nie.  Inteendeel.  Dit beklemtoon juis die feit dat ons midde-in die vloed van die geskiedenis, leef by die lig wat ons het en dat ons uit die aard van ons ‘historiese’ bestaan daartoe ‘verplig’ word om telkens in die geloof te antwoord op die aanspraak/belofte/aanmoediging van die boodskap van Christus.

Kragtens die antwoord-karakter van ‘n belydenis  (ingebed in die groot gesprek tussen hemel en aarde) durf ‘n belydenis nie gereduseer word tot ‘n aantal stelsinne waarin regsinnigheid verwoord word nie.  In die egte belydenis resoneer die leer en lewe, woord en wandel van die geloofsgemeenskap mee sodat hulle lewenspraxis uitleg word van die waarheid waarop hulle hoop.  Laasgenoemde is een van die identifiserende kenmerke van ‘n belydende kerk.

Teen die agtergrond van bogenoemde is dit nodig om te vra of daar enige objektiewe kriteria bestaan ten opsigte van die ‘leerinhoude’ wat in ‘n belydenis behandel behoort te word.  Die belangrike in die verband is dalk om op te merk dat ‘n belydenis nie ‘n dogmatiek-handboek hoef te wees in die sin dat al die loci bespreek moet word nie.  Wat in die konflik van interpretasie beroering veroorsaak, kan as fragment aan die orde kom, maar moet die geloofsantwoord se diep verankering in die heilsgeheimenis verwoord [3].

‘n Laaste opmerking rondom die vraag na die status van belydenisse en belydenisskrifte.   ‘n Belydenis of geloofsverklarende dokument word ‘n belydenisskrif as ‘n geloofsgemeenskap dit amptelik ‘omhels’ en aanneem as uitdrukking van die eie geloofsverstaan.  Dit kan uiteraard net sin maak as die ‘inhoude’ van hierdie belydenis binne hierdie geloofsgemeenskap in die prediking, kategese en lewenspraxis aanwesig is, m.a.w. as hierdie belydenisinhoude die identiteit van die geloofsgemeenskap mede-bepaal.

In die lig hiervan, kan ons nou ‘n antwoord waag op die vraag na die status van die belydenis van Belhar :  Belhar is ‘n belydenisskrif van ‘n lidkerk van die NGK familie, waarmee ons behoort om te gaan soos wat ons sou wou hê dat ander met ons belydenisskrifte moet omgaan.  Vir die NG Kerk is die belydenis van Belhar tans nie ‘n belydenisskrif nie, maar ‘n belydenis op ons tafel wat uitnooi, oproep en aanmoedig om sáám te sê (confessio), dieselfde te sê (homologia) in ‘n tyd soos hierdie.

Andries Kritzinger by die Buitengewone Sinode van Wes-Transvaal 16 April 2013 – Laai dit hier af in Word formaat:
Van die ander bydraes wat daar gemaak is:

 

 


[1]  Ons dink in die verband aan Godsbeskouing, Skrifbeskouing, Kerkbeskouing en Mensbeskouing

[2]  In besondere sin kan belydenisse die gestolde prediking van die kerk genoem word

[3]  Dink in die verband aan Christologiese skopus en Trinitariese spreiding

Trackback from your site.

Comments (2)

Leave a comment

%d bloggers like this: