dien thoai di dong , dau gia , the gioi smartphone , download game mobile , smartphone , tang truong , khoa hoc cong nghe thong cong , mua ban sim , Smartphone gia re , cong nghe tuong lai , cong nghe 360 , giai tri guongmat.org , su kien trong ngay , thoi trang hi tech , thong tin 360 , may tinh bang , perfect body , kasuman.com , gia vang hom nay , tin tuc an toan , kinh te viet nam , xay dung viet nam , thoi trang , thoi trang , phu nu viet nam , tin tuc moi online , dich vu bao ve viet nam , bao ve viet nam , cong ty bao ve viet nam , tin tuc moi online , giai tri 24h , tin tuc 24h

Belhar – nie as ‘n Belydenisskrif nie

Written by Webmeester on . Posted in Ander bydraes

Print Friendly
Daar is ‘n paar dinge wat hinderlik en kommerwekkend is in die proses om uitvoering aan artikel 44 van die Kerkorde te gee.

1.         Die inhoud van Belhar en die aanvaarding as belydenisskrif.

Die inhoud van die Belydenis van Belhar (hierna Belhar) word met die aanvaarding as belydenisskrif gelyk gestel. Lang en passievolle uiteensettings van die inhoud van Belhar om te bewys dat Belhar sê wat die Skrif oor Eenheid, Geregtigheid en Versoening sê, word gegee. Ongetwyfeld kan dit nie ontken word nie. Dit is ook nie waaroor die stryd na my mening gaan nie. Die probleem is dat sommige voorstanders van Belhar redeneer dat ons Belhar as belydenisskrif moet aanvaar omdat die inhoud daarvan Skriftuurlik is. Dit is ‘n logiese sprong om so ‘n afleiding te maak. Persoonlik onderskryf ek die beginsels van Belhar (eintlik is dit Skrifbeginsels wat Belhar slegs na-sê) maar om dit as ‘n belydenisskrif te aanvaar, lê op ‘n ander vlak. Dit is sleg vir die gesprek oor Belhar dat psigagogie (emosionele druk) as hefboom gebruik word om mense te oorreed dat hulle Belhar moet aanvaar omdat die inhoud Skriftuurlik is. Wie dit nie as belydenisskrif wil aanvaar nie, is volgens hierdie uitgangspunt aan God en die Skrif ongehoorsaam. In ‘n ope brief aan lidmate in Kerkbode skryf prof. Piet Naude byvoorbeeld oor die onwilligheid om Belhar te aanvaar: “Is daar dan iets anders as ongehoorsaamheid aan die stem van die Here wat sal maak dat ons na ’n kwarteeu nog nie bely nie?”[1] Ek kry die gevoel dat daar moeite gedoen word met inligtingsessies en inligtingstukke om Belhar as Skrifgetrou voor te hou in die veronderstelling dat lidmate dan noodwendig Belhar as belydenisskrif moet aanvaar. Instemming met die inhoud van Belhar veronderstel nie noodwendig die aanvaarding daarvan as belydenisskrif nie. Omgekeerd kan die weiering om Belhar as belydenisskrif te aanvaar, nie sonder meer met ongehoorsaamheid aan God gelyk gestel word nie.

2.         Subtiele manipulasie van die proses

Dit is reeds langer as ‘n jaar nadat die Algemenese Sinode die besluit geneem het om artikel 44 van die kerkorde toe te pas. Tog het die ASM besluit om nie dadelik uitvoering aan die besluit te gee nie. Daar is besluit om inligtingsessies in gemeentes te hou in ‘n poging om lidmate van die Skriftuurlikheid van Belhar te oortuig in die hoop dat die meningspeiling van ‘n paar jaar gelede teen Belhar omgeswaai sal kan word. Daar is selfs in die wandelgange gesê dat predikante “aan boord” gekry moet word om Belhar te aanvaar, wetende dat predikante wat positief oor Belhar is, hulle gemeentes sal beïnvloed om Belhar te aanvaar. Die voorsitter van die ASM het aan die ASM die versekering gegee dat die proses openlik en sonder beïnvloeding sal wees. Maar ‘n week later gee hy aan die Algemene Sinode van die VGK die versekering dat Belhar as belydenisskrif aanvaar sal word en dat die kerkleiding “eenparig agter Belhar staan”[2]. Kerkbode berig dat die ASM “eenparig” besluit het om Belhar as belydenisskrif te steun[3], terwyl dit eenvoudig onwaar is. Die bewering word gemaak dat die hele gereformeerde wêreld Belhar aanvaar het, terwyl dit ver van die waarheid is. Alles word gedoen om die indruk te skep dat almal reeds Belhar aanvaar het en dat ons dus nie ‘n keuse het nie. Enige sodanige vorm van manipulasie van die proses, hoe subtiel ookal,  gaan die kerk duur te staan kom.

3.         Sosio-politiese druk speel ‘n rol

Die haglike landsomstandighede word deesdae al hoe meer gebruik as hefboom om Belhar aanvaar te kry. Die argument lui dat die inhoud van Belhar die sosio-politieke nood sal kan aanspreek. “Ons kan nie langer wag om Belhar te aanvaar nie”, word dan aangevoer. Dit is egter na my mening ‘n gevaarlike strategie om Belhar aanvaar te kry. Die argument bou op die aanname dat Belhar die samelewing sal regruk. Maar as die samelewing die Skrif as primêre bron oor eenheid, versoening en geregtigheid het en dit maak geen verskil nie, hoe op aarde sal die aanvaarding van Belhar ons land tot inkeer laat kom? Die Verenigde Gereformeerde Kerk het Belhar al 25 jaar gelede aanvaar en dit kon nie ‘n betekenisvolle verskil aan die haglike omstandighede in ons land meebring nie. Daar word selfs gesuggereer dat die kerk nie haar werk sonder Belhar kan doen nie (‘n opmerking by die Algemene Sinode van 2011).  Word daar nie dan meer mag en gesag aan Belhar as aan die Skrif toegeken nie? Om die dringende nood van ons sosiale konteks as hefboom te gebruik om die proses te bespoedig om Belhar aanvaar te kry, is nie alleen bedenklik nie, maar ook teologies ongeregverdig.

4.         Belhar ‘n politieke dokument?

Ek kan nie met die argument saamstem dat Belhar ‘n politieke dokument is nie. Ek aanvaar dat Belhar uit ‘n politieke konteks ontstaan het.  Prof. Dirkie Smit verduidelik: “Ook die Belydenis van Belhar is gebore in so ‘n historiese oomblik, van apartheid en van die Bybelse en teologiese regverdiging van apartheid binne die kerk self. Sonder dié politieke en kerklike agtergronde was daar geen Belhar  nie en sonder die teologiese debatte van destyds kan die ontstaan van Belhar nie na behore verstaan word nie.”[4] Dit maak dit egter nie ‘n politieke dokument nie. Dit is ‘n teologiese dokument wat uiters-noodsaaklike perspektief op die sosio-politieke dispensasie bied. Maar daarin lê juis die verskil. In 1998 het die Algemene Sinode die belangrike onderskeid tussen die aard van ‘n belydenisskrif en teologiese besinning oor geloofswaarhede getref. Die volgende aanhaling uit die besluit is betekenisvol: “Terwyl die beoefening van teologie altyd tydgebonde, feilbare mensewerk is, het ons in die kerlike belydenis met meer as net die akademiese menings van teoloë te make. In die belydenisskrifte herken ons die algemene ongetwyfelde christelike geloof, soos die kerk dit op grond van die Skrif bely”[5]. Hieruit is dit duidelik dat die aard van ‘n belydenisskrif op ‘n ander vlak lê as ‘n teologiese dokument wat sosiale kommentaar lewer.

5.         Die stryd om belydenisaanvaarding

Ek is nie oortuig dat die stryd wat destyds rondom die vorming van die Drie Formuliere van Eenheid ontstaan het, met die huidige stryd oor die aanvaarding van Belhar vergelyk kan word nie. Die stryd destyds het oor teologiese heilswaarhede gehandel, oor die beginsels van die “algemene Christelike ongetwyfelde geloof”, om die bewoording van die Algemene Sinode te gebruik. Die huidige stryd  handel oor die aanvaarding Belhar as belydenisskrif. Ek en baie ander stry nie oor die teologiese inhoud van Belhar nie, maar voel dat Belhar eerder ‘n eietydse getuienis, soos die bekende Barmen-verklaring kan wees, nie ‘n belydenisskrif nie. Persoonlik bly dit vir my ‘n belangrike struikelblok dat Belhar oor ‘n tydperk van 25 jaar nie groter eenheid kon bewerk nie maar eerder groter verdeeldheid.

6.         Slot

Ek het drie slotopmerkings:

6.1      Laat ons die inhoud van die Belydenis van Belhar ernstig opneem. Oor presies hoe dit in die praktyk toegepas behoort te word, moet ons voortgaan om met mekaar in gesprek te tree.

6.2      Laat ons versigtig wees om mekaar se bona fides in twyfel te trek of mekaar te etiketeer.

6.3      Laat ons onsself aan God en aan mekaar verbind om met integriteit en biddend die proses te deurloop ter wille van die Here se kerk en koninkryk.

[Opmerking: Hoewel dit ‘n persoonlike standpunt is, is hierdie skrywe op versoek van die moderamen van die Vrystaat geskryf. Dit sluit aan by die standpunte in my bydrae tot die publikasie: Belhar geweeg.]

Aantekeninge:

 


[1]           Kerkbode 7 Oktober 2011

[2]           Kerkbode 19 Oktober 2012: 5

[3]           Kerkbode, 15 Februarie 2012: 3

[4]           Smit, Dirkie. 2011 .  ‘n Blik op eenheid, versoening en geregtigheid 1986 en 2011. Oor die teologiese inhoud van die Belydenis van Belhar.  Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, 31 Oktober 2011, CR Swart Ouditorium, Bloemfontein.

[5]           Handelinge van die Tiende vergadering van die Algemene Sinode:517; 11.1.3

 Johan van Rensburg – een van die bydraes as Gespreksdokumente met die oog op streeksaamtrekke van die NG Kerk in die Vrystaat, 4 – 6 Maart 2013.

BELHAR – NIE AS ‘N BELYDENISSKRIF NIE

Trackback from your site.

Comments (1)

Leave a comment

%d bloggers like this: