dien thoai di dong , dau gia , the gioi smartphone , download game mobile , smartphone , tang truong , khoa hoc cong nghe thong cong , mua ban sim , Smartphone gia re , cong nghe tuong lai , cong nghe 360 , giai tri guongmat.org , su kien trong ngay , thoi trang hi tech , thong tin 360 , may tinh bang , perfect body , kasuman.com , gia vang hom nay , tin tuc an toan , kinh te viet nam , xay dung viet nam , thoi trang , thoi trang , phu nu viet nam , tin tuc moi online , dich vu bao ve viet nam , bao ve viet nam , cong ty bao ve viet nam , tin tuc moi online , giai tri 24h , tin tuc 24h

Belhar nie alles vir almal nie

Written by Webmeester on . Posted in Ander bydraes

Print Friendly
Die Belhar-belydenis bly in die nuus.  Die Belhar debat lewer gereeld nuwe gesprekke op. Sommige gespreksgenote weeg Belhar lig, ander swaar; sommige lees Belhar eensydig, ander veelkantig; sommige interpreteer Belhar eksklusief, ander inklusief.

Onlangs het agttien  kerklui en bekendes onder andere prof Piet Strauss in ’n nuwe boek, Belhar geweeg, Belhar te lig geweeg. Hulle vertel waarom hulle gekant is teen die Belhar-Belydenis as ’n vierde belydenisskrif. Ek lees ook opskrifte in Kerkbode soos “Groete boodskap: NG leiers staan eenparig by Belhar” en “VGK met Belhar na regering”. Die VGK gaan Belhar gebruik om die regering tot orde te roep sodat ekonomiese ongeregtigheid en  korrupsie aangespreek word.

Maar dit is Jean Oosthuizen van Kerkbode se gesprek met die vorige moderator van die VGK, prof Thias Kgatla wat my aan die dink gesit het. Die vraag: “Met watter voorveronderstellings lees mense Belhar?” het by my ontstaan. Kgatla meen “die debat vir of teen homoseksualiteit mag nooit met voorveronderstellings vanuit die Belydenis van Belhar gevoer word nie. Dit sal onwys wees, veral in gemeenskappe wat nie bemagtig is om die Bybel op ’n gebalanseerde manier te lees nie. Die debat oor homoseksualiteit moet op grond van die Bybel self geargumenteer word. Te veel mense wat dié belydenis wil gebruik om homoseksualiteit te regverdig, doen dit as ’n laaste poging om hulle saak te stel, nadat hulle nie daarin kon slaag om dit vanuit die Skrif te doen nie. Baie mense het beledig gevoel toe ongelyksoortige redes vir die aanvaarding van homoseksualiteit aangevoer is om ’n argument te stel. Ek dink daar is genoeg getuienis in die Bybel waarop ’n mens kan reken wanneer oor homoseksualiteit gedebatteer word.”

Die Belhar-debat betree ‘n nuwe dinamiese fase onder Belyers van Belhar. Dit  lei tot die hermeneutiese vraag: “Hoe word Belhar in nuwe tye en omstandighede verantwoordelik gelees en verstaan?”. Belydenisskrifte soos Belhar is geloofsuitsprake op grond van die Bybel en reeds ‘n stuk hermeneutiek uit die Bybel. Die konteks en voorveronderstellings van Bybellesers geld óók vir geloof belyers in hul verstaan van dit wat hul bely. In ander woorde as ‘n gelowige anti-gay is en die Bybel vanuit die bril lees, sal hy of sy ook belydenisse in die lig sien.

Die Bybel het soos belydenisse bv. Belhar historiese kontekste. Dit het nie uit die lug geval nie.

Wanneer verkeerd oor God gepraat is, het die kerk die misleidende sienings oor God gekorrigeer deur nuut te bely. Die doel met belydenisse is om gelowiges te help om God, soos deur Jesus Christus en die Bybel bekend, reg te eer en te dien en rekenskap van hul geloof te gee. Dit bind gelowiges en hou hul geloof gefokus.

Omdat ons gereformeerd is, maak ons gedurig seker dat die teks (Bybel/belydenisskrif) lewend  op die vinnig veranderde konteks (samelewing) is. God se ontfermende geregtigheid teenoor verontregtes kom in die Bybel voor,  en word in Belhar bevestig en bely. Ongeregtigheid en diskriminasie teen en uitsluiting van mense kom in verskillende gedaantes in die geskiedenis van die Bybel, tye daarna en vandag na vore. Ek hoop nie dit sal nodig wees dat ‘n nuwe belydenis God se houding jeens gender en seksualiteit verwoord nie, Belhar doen dit reeds.

Pieter van Niekerk     

Trackback from your site.

Comments (6)

  • Wynand

    |

    God is die God van al die mense op die aarde.

    Hierdie is natuurlik reg. God is die God van alle mense in die sin dat Hy eienaarskap het oor die hele skepping. Dit word duidelik in die eerte hoofstuk van Johannes genoem:

    Johannes 1:11 Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.

    Hy het na sy eiendom toe gekom:

    Die hele mensdom behoort aan Hom. Hy laat die son skyn en die reën val op die regverdige en die ondergverdige. Hierdie is verwysings na God se algemene genade.

    Die woord “besonderse wyse” in Belhar beteken egter dat hier iets meer by betrokke is as net die algemene genade. Hier word onderskeid getref tussen mense. Met ander woorde: As God vir ALMAL lief het, of sorg, of besit (eienaarskap het) is daar niks besonders aan die een groep of die ander nie. Almal is tog voor God eenders in dié verband.

    Wat van Paulus? Die belangrike punt wat Paulus maak (Lees hom in konteks asseblief!) is dat God, wat voorheen slegs op ‘n besonderse wyse die God van Israel was nou ook heidene in sy verbond insluit. Hier praat Paulus dus nie van God se algemene genade en eienaarskap nie maar van die feit dat die verbond in Christus uitgebrei word na mense uit ander nasies. In Efesiers 3 praat Paulus dan juis van die geheimenis wat God aan hom openbaar het: Dat die verbond uitgebrei word na mense uit die heidennasies, en in Galasiers 3 is dit duidelik: Daar is nie meer Jode en Grieke on slawe en slawe-eienaars nie. IN CHRISTUS is almal een. Die kernwoorde is hier “in Christus”. God breek slegs mure van etnisiteit deur mense in Sy verbond in te voeg. Dié wat buite die verbond staan het nie deel hieraan nie.

    Omdat God eienaarskap oor die hele mensdom het, is Hy geregtig daarop om mense uit die heidennasies in Sy verbond op te neem.

    En tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie:

    Die mensdom as ‘n geheel het Hom verwerp, ten spyte van Sy eienaarsreg op die mensdom.

    Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo:

    Die Bybel ken geen onderskeid tussen mense op grond van ekonomiese stand of politieke klas nie. Slegs op grond van hulle posisie in Christus.

    het Hy die reg gegee om kinders van God genoem te word:

    Hier is die enigste groep mense vir wie God op ‘n besonderse wyse hulle God is: Dié wat Hom aangeneem het en in Hom glo.

    Hulle is dit nie uit die besluit van ‘n mens nie, maar hulle is uit God gebore:

    God se soewereinheid in die wedergeboorte word hier bevestig.

    Johannes 1 leer dus duidelik: Die hele mensdom behoort aan God, maar God is slegs op ‘n besonderse wyse die God van dié wie op grond van Sy soewereine besluit Hom aangeneem het.

    Ek haal jou aan:

    “Gereformeerdheid is dus NIE op die spel as ‘n mens die frase in die Belydenis van Belhar aanvaar NIE (God is op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte), wel jou deernis met dié wat swaar kry in die lewe, gelowig of ongelowig.”

    Niemand ontken vir een oomblik dat God wil hê ons moet deernis hê vir almal wat noodlydend is, ongeag hulle geloof nie. Die afleiding dat my deernis op die spel is as ek hierdie reël verwerp is absurd. Ek verwerp hierdie stelling met my hele wese. Dit volg eenvoudig nie en weerspreek een van die basiese premisse van my geloof. Juis dit is die bewys dat ek waarlik glo, dat ek waarlik deel van die verbond is, as ek soos Jesus vir mense in nood bystaan.

    Ek het reeds voorheen hier opgemerk: As ek omgee vir honger kinders beteken dit nie ek is alle honger kinders se pa nie. Slegs my eie kinders is my kinders. Die dinkfout wat Belhar maak is om te sê dat as ek omgee vir iemand ek noodwendig in ‘n besondere verhouding met die persoon staan. Dit is eenvoudig vals.

    Ek glo daar is baie “Gereformeerdes” wat hulle gereformeerdheid verloën. Dr Ben du Toit, wie ‘n artikel elders hier op die webwerf geskryf het verloën nie net sy Gereformeerdheid nie maar die Christelike godsdiens. Maar dit is ‘n ander gesprek. Die punt wat ek probeer maak is: Net omdat mense sê “Here Here” beteken dit nie hulle onderskryf die Gereformeerde belydenis nie. Daar is baie voorbeelde van kerke wat nie meer deel van die Liggaam van Christus is nie. (Byvoorbeeld die Katolieke kerk, en liberale protestantse kerke in Europa.) Ek beweer nie Belhar sal ‘n kerk onmiddelik afsny van Christus nie. Moet my asb nie verkeerd verstaan nie. Maar dat hierdie sin in Belhar ‘n kerk se stuurwiel in die verkeerde rigting sal draai is duidelik.

    En ja, net soos wat die woorde “God is op ‘n besonderse wyse die God van die Afrikaners” politieke implikasies het, het die woorde “God is op ‘n besonderse wyse die God van die verontregtes” duidelike politieke implikasies. Hierdie is niks anders as ‘n teologiese regverdiging vir die Marxistiese klasserewolusie nie, net soos eersgenoemde die regverdiging vir apartheid was.

    Ek glo nie enige historikus kan die verband tussen Belhar en bevrydingsteologie ontken nie.

    Reply

  • Wynand

    |

    Ek moet net byvoeg, al die tekste wat wys dat God besorgd is oor die armes en verontregdes is waar. Ek ontken dit geensins nie en moet dit asb nie eers BEGIN dink nie!

    Om egter te gaan van “God is bekommerd oor die verontregdes” na “God is op ‘n besondere wyse die God van verontregtes” is eerstens ‘n denkfout (Dit is soos om te sê, ek is bekommerd oor honger kinders en daarom is alle hhonger kinders my kinders) en tweedens laat die Bybel eenvoudig nie daardie afleiding toe nie.

    Daar is geen Bybelse gronde om te spring van “God gee om vir die verontregdes” na “God is op ‘n besonderse wyse die God van die verontregdes” nie.

    Belhar kom hiérin nie ooreen met die Woord van God nie en faal dus die toets van ‘n belydenisskrif.

    Dit is so eenvoudig soos dit.

    Reply

  • Wynand

    |

    Hallo Pieter

    1) Belhar beweer God is op ‘n besonderse wyse die God van die armes en verontregtes.

    Die Bybel en die belydenisskrfte is duidelik dat God slegs op ‘n besonderse wyse die God van die verbondsvolk en uitverkorenes is.

    2) Belhar beweer dat die kriteria waarvolgens God besluit om op ‘n besonderse wyse die God van iemand te wees hulle materiële en politieke status is.

    Die Bybel en belydenisskrifte is duidelik dat God op grond van geen aantoonbare hoedinigheid van die mens besluit om op ‘n besonderse wyse iemand se God te wees nie, maar op grond van sy ewige, onkenbare en genadige raadsplan.

    Belhar is dus ‘n direkte, blatante weerspreking van ons bestaande belydenisskrifte.

    3) Die stelling “God is op ‘n besondere wyse die God van die Afrikaner” het direk gelei tot die boosheid van apartheid.

    Daar is ABSOLUUT geen verskil tussen dié stelling en die stelling dat God op ‘n besondere manier die God van die verontregtes is nie.

    Soos die eerste stelling die grondslag vir apartheid gelê het, lê die tweede stelling die grondslag vir Marxistiese revolusie en klassestryd. En beide is apartheid en klasse revolusie is ewe boos.

    Belhar is gevolglik niks anders as die teologiese begronding vir die Marxistiese revolusie nie. Dit is eenvoudig boos.

    En wat dit nog meer gevaarlik maak is dat 99% van die dokument reg en goed is, maar hierdie een sinnetjie vergiftig dit, soos ‘n druppel sianied ‘n tenk vars drinkwater vergiftig en al die water gif maak.

    Reply

  • Pieter

    |

    Sjoe, ek moet met jou verskil. As ‘n Gereformeerde neem ek die Bybel ernstig op en lees ek :Deut 32:4; Luk 2:14; Joh 14:27;Efes 2:14;Jes 1:16-17; Jak 5:1-6; Luk 6:20-26; Luk 7:22; Luk 16:19-31. Ps 146; Luk 4:16-19; Rom 6:13-18; Amos 5 en in Mat 25: 31-46 word ook die Gereformeerdes geoordeel volgens die deernis en ontferming wat ons bewys. Groete

    Reply

  • Wynand

    |

    ‘n Gereformeerde kan nooit beweer , “(God is…) op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte…” nie omdat die Gereformeerde belydenisskrifte sleg toelaat dat God op ‘n besonderse wyse die God van die uitverkorenes is.

    Vir Gereformeerdes om Belhar te bely is dus onmoontik, tensy hulle hulle gereformeerdheid verloën

    Reply

    • Webmeester

      |

      ‘n Mens kan nie net met enkele Bybeltekste werk om God se verbintenis aan al die mense van hierdie wêreld te bevestig nie. Soms is dit egter die enigste manier om ‘n duidelike antwoord te gee as die vraagsteller, soos Wynand Louw hier, aandring daarop.

      Daarom hierdie vier Bybeltekste om duidelik aan te toon dat God die God van alle mense op die aarde is, en dat wanneer Hy Hom as die Beskermer van dié wat nood het bekend maak, dit ook geld vir almal wat nood het op die aarde:
      * Jesaja bevestig dat God die God is van die hele wêreld, en dit in die konteks van sy verbintenis ook met Israel: “Hy wat jou gemaak het, is jou man, sy Naam is die Here die Almagtige. Die Heilige van Israel is jou Verlosser; Hy word DIE GOD VAN DIE HELE WêRELD genoem” – Jes 54:5. God is nie beperk tot Israel nie, en sy genade, genadiglik, ook nie.
      * Jeremia doen dieselfde en noem God die God “van” al die mense: “Ek is die Here DIE GOD VAN AL DIE MENSE.” – Jer 32:27. Daar is eintlik geen ander gode nie, net een God van almal, soos Paulus redeneer in 1 Kor 8:5-6: “En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie wat “Here” genoem word, is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.”
      * Nog duideliker is Paulus in Romeine wanneer hy ‘n eksklusiewe siening oor God as net die Joodse Verbondsgod moet troef, en sê: “Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook (GOD) VAN DIE HEIDENNASIES” – Rom 3:29. Duideliker kan dit eintlik nie gesê word nie.
      * Daarom kan ons saam met die Jode van Esra se tyd verklaar: “Ons is dienaars van DIE GOD VAN DIE HEMEL EN DIE AARDE” – Esra 5:11.

      Dit is nou benewens die vele tekste wat op God se verbintenis aan alles en almal dui weens die feit dat Hy alles in die eerste plek geskep het – die hele skeppingstradisie regdeur die Bybel. Trouens, alle mense is reeds in die verbond met Adam (Hos 6:7 – as die teks net so gehou word [met wysigings aan die teks, kan die woord Adam na ‘n dorpie Adam dui, soos in die NAV, hoewel dit nie deur baie geleerdes nagevolg word nie – ander interpreteer die woord Adam weer as grond in die betekenis van “dirt”]) en met Noag ingesluit (Gen 9:9) as ‘n mens tog met ‘n verbondskonteks wil werk. Dit beteken nou nie dat almal gered word nie. Daarvoor is ‘n verbintenis met Jesus Christus nodig, soos die NT en Paulus spesifiek dit tog duidelik uitspel: “Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.” – 1 Kor 15:22.

      Al die ander Bybeltekste wat dus op God se besondere gevoel dui vir armes, noodlydendes, verdruktes ensomeer, het nie net met dié in die Abrahamitiese verbond of dié wat deel is van die Joodse volk, of deel is van die geloofsgemeenskap (Gal 3:29) betrekking nie. Trouens, dít is een van die maniere waarop God se genade vir alle mense bekend gemaak word, deur die armes, verdruktes en noodlydendes van Sy liefde te verseker en aan hulle te verkondig dat God hulle genadig wil wees in Jesus Christus.

      Dit is ook waarom Jesus dan ook ALLE MENSE (Jode, Christene en heidene) by die wederkoms verdeel in die metaforiese bokke en skape (Matt 25), en die onderskeiding tussen die groepe maak op grond van hulle barmhartige omgee vir dié wat nie vir hulleself kan sorg nie. Hoekom? Omdat God self só is, Hy gee om vir dié wat swaar kry, maak nie saak wie hulle is of waar hulle is nie. En waar ons ‘n beker koue water vir iemand gee, maak nie saak of hy of sy ‘n gelowige is of nie, dit gereken word asof ons dit vir God gegee of gedoen het. God hanteer doodgewoon nie (bv) geweldenaars dieselfde as dié wat ly onder geweld nie. Sy genade is vir almal, maar waar mense nie genade bewys aan dié wat dit nodig het nie, staan God die genadeloses teë (tot hulle tot inkeer kom) en kom op vir dié wat genadeloos hanteer word, en vra sy kerk om Hom hierin na te volg.

      Gereformeerdheid is dus NIE op die spel as ‘n mens die frase in die Belydenis van Belhar aanvaar NIE (God is op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte), wel jou deernis met dié wat swaar kry in die lewe, gelowig of ongelowig. Dat jy nie dié spesifieke bewoording wil aanvaar nie, is jou vrye reg. Maar om dit as ongereformeerd of onBybels uit te wys, is onwaar.

      Ek aanvaar jou bona fides dat jy nie reken God is onbarmhartig teenoor armes en noodlydendes nie. Waar jy egter mense wat van jou verskil as ongereformeerd afmaak, en hulle uitsprake as onmoontlik afmaak, raak dit net te dik vir ‘n daalder. Hoekom verskil jy nie net, Wynand, sonder om dié met wie jy verskil allerlei etikette toe te dig nie?

      Ek het uiteindelik nie ‘n probleem dat jy nie die frase in Belhar wil aanvaar nie. Dit is jou goeie reg. Ek het egter ‘n probleem as jy dié wat dit wil aanvaar en vir wie dít die evangelie verkondig, as Marxiste en ongereformeerdes uitkryt. Daarmee skryf jy ‘n hele paar kerke in ons land en in die wêreld doodgewoon af. Dit is arrogant en toon geen respek nie.

      Reply

Leave a comment

%d bloggers like this: