dien thoai di dong , dau gia , the gioi smartphone , download game mobile , smartphone , tang truong , khoa hoc cong nghe thong cong , mua ban sim , Smartphone gia re , cong nghe tuong lai , cong nghe 360 , giai tri guongmat.org , su kien trong ngay , thoi trang hi tech , thong tin 360 , may tinh bang , perfect body , kasuman.com , gia vang hom nay , tin tuc an toan , kinh te viet nam , xay dung viet nam , thoi trang , thoi trang , phu nu viet nam , tin tuc moi online , dich vu bao ve viet nam , bao ve viet nam , cong ty bao ve viet nam , tin tuc moi online , giai tri 24h , tin tuc 24h

Belhar en die Bybel

Written by Webmeester on . Posted in Ander bydraes

Print Friendly
In die lig van die feit dat die Algemene Sinode van die NG Kerk alreeds in 1990 besluit het dat die Belydenis van Belhar nie onskriftuurlik is nie (en ook nie in stryd is met die Drie Formuliere van Eenheid nie), is ‘n kritiese beskouing van die gebruik van die Bybel deur hierdie belydenis wel vir ons van belang.

Die vraag is: Is die gebruik van die Bybel deur Belhar hermeneuties verdedigbaar?

Wanneer ons na die teksverwysings in Belhar kyk en ons hedendaagse vertolking van die Bybel daaraan meet, hoe vaar die Belydenis van Belhar as uitdrukking van ons Christelike geloof in ons tyd dan?

Ons volg die indeling deur die VGK gebruik, naamlik dat Belhar uit drie artikels bestaan, met ’n inleidende en ’n slotparagraaf.

1.1   Die Inleidende Paragraaf

Die Belydenis van Belhar neem as vertrekpunt ons belydenis in ‘n Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Geen teksverwysings hier nie. Dit sluit direk aan by die Heidelbergse Kategismus (Vraag en Antwoord 24 en 25, wat daar ook verwys na die Drie-eenheid-indeling van die Apostoliese Geloofsbelydenis of Apostolicum) en die Nederlandse Geloofsbelydenis (Art 8 en Art 9). Hierop hoef ons nie verder in te gaan nie. Dit is hoe ons oor God dink, hoe ons as Gereformeerdes in Hom glo. Ons glo nie sommer in “enige God” nie, maar in God Drie-enig, soos geopenbaar in Jesus Christus.

1.2   Die Eerste Artikel

In hierdie artikel gaan dit oor die eenheid van die kerk. Hier word die Apostolicum feitlik woordeliks herhaal (met uitbreiding aan die end), naamlik dat ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.

Die laaste deel van hierdie sin (geroepe uit die ganse menslike geslag) is van groot betekenis. Daarvoor word aangesluit by Efese 2:11-22 waar die klem val op die feit dat die kerk die natuurlike, kulturele skeidende faktore in die gemeenskap relativeer tot ‘n nuwe eenheid: “Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het.” (14) Ook Efese 4:1-16 word aangedui om hierdie belydenis oor die sigbare eenheid van/in die kerk te onderstreep. Daar staan onder meer dat daar net één liggaam en net één Gees is, soos daar net één hoop is waartoe God die kerk roep. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon (4-5).

Hierdie tema oor die sigbare eenheid van die kerk is deurlopend in die Nuwe-Testamentiese geskrifte. Die moontlike gedagte dat daar onderskeie gemeentes (kerke) vir die onderskeie taalgroepe en kultuurgroepe sou wees, is geheel en al afwesig in die Bybel. Ander gelykluidende frases in die Nuwe-Testamentiese briewe is byvoorbeeld Kol 3:10-15 (wat ook by die volgende artikel oor versoening aangedui word): “Julle… leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees… Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van die een liggaam in vrede ment mekaar te lewe.”

Die eenheid van die Volk van God kom meermale in hierdie artikel van die belydenis voor, maar dan verwysend na ‘n volk wat nie saamgestel word uit ‘n gemeenskaplike etniese of kulturele verband nie, maar wat juis te midde van die verskeidenheid as één gemeente sal funksioneer in liefde en harmonie as getuienis vir die wêreld: Dit is die kerk van Christus, sy gemeente. Die kerk is ánders. Teenoor die volkskerk-beskouing van die apartheidstydperk (lees NG Kerk), word die Nuwe-Testamentiese klem op die nuwe Volk van God in die belydenis beklemtoon.

Dit val op dat Johannes 17 (die gebed van Jesus vir sy dissipels) nie onmiddellik gebruik word tot motivering vir kerkeenheid nie. Of dit so bedoel was, of nie, maak dit literêr-histories sin, omdat die briewe van die Nuwe Testament meestal vroeër as die Evangelies – veral die Johannes-Evangelie, wat waarskynlik teen die einde van die eerste eeu geskryf is – verskyn het.

Daar was al baie debat oor die gebruik van die Johannes 17 vir die motivering vir die eenheid van die kerk. Hierdie debat is al oor en oor in die NG Kerk gevoer. Gewoonlik word daarop gewys dat Johannes 17 nie handel oor strukturele eenheid soos ons dit vandag verstaan nie. Daarom mag hierdie gebed van Jesus vir eenheid onder sy dissipels nie (mis)gebruik word vir die motivering vir kerkeenheid nie, veral nie vir ‘n kerklike eenheidstruktuur nie. Dit is natuurlik waar dat strukturele eenheid nie op die oog is met Jesus se gebed soos ons vandag kerkstrukture ken nie. Daar was buitendien op daardie stadium (voor die kruisiging en opstanding) nog geen sprake van “’n kerk” nie. Eers na die opstanding en hemelvaart het huis-gemeentes ontstaan en eers baie later, toe die Christelike geloof na Antiochië en verder in Klein-Asië versprei het, het verskillende geografiese gemeentes ontstaan (soos die gemeentes van Efese, Kolossense, Rome, ens).

En al vroeg in die geskiedenis van die Christelike gemeentes, bedreig groepvorming, op grond van taal en kultuur binne hierdie gemeentes, die eenheid ín die gemeente. Dit was trouens een van die hoofredes vir die kies van die eerste dienswerkers (diakens) in Handelinge 7, om daarna om te sien dat die Griekssprekende weduwees nie verwaarloos word met versorging nie. In Galasiërs skryf Paulus kwaai woorde oor Petrus se optrede in daardie gemeente wat tot verdeeldheid en spanning gelei het, toe hy (Petrus) liewer saam met die Joodse Christene geëet het, as met die “Heidense” (Griekssprekende) Christene (Galasiërs 2).

As die Christene dus Johannes se weergawe van Jesus se gebed vir eenheid onder sy dissipels teen die einde van die eerste eeu lees, sou selfs hulle daarin die pleit om die behoud van die eenheid in die plaaslike gemeente gehoor en verstaan het. Buitendien, as die sigbare eenheid moes geld as ‘n getuienis na buite die kerk, hoe kan dit dan gebeur as dit nie binne ‘n bepaalde (gemeente-) struktuur plaasvind nie?

Wanneer dit dus in die eerste artikel oor die eenheid van die kerk gaan, is dit verstaanbaar dat die Belydenis van Belhar slegs vanuit die Nuwe Testament (die bedeling van die kerk) aangehaal word om die unieke karakter van die kerk as Volk van God te beskryf en te beklemtoon.

1.3   Die Tweede Artikel

In hierdie artikel gaan dit oor versoening en is dit weereens opvallend dat daar slegs aanhalings uit die Nuwe Testament voorkom. Die locus classicus (klassieke skrifgedeelte) vir die versoenende rol van die kerk vind ons in 2 Korintiërs 5:17-21 (die eerste skrifgedeelte in hierdie artikel wat deur die belydenis aangehaal word).

Die woorde van die Bybel is hier helder en duidelik. Die kerk se roeping tot versoening word soos volg gemotiveer:

  • Christus het vir ons gesterf sodat ons nie meer vir onsself leef nie, maar vir Hom wat vir ons gesterf het en uit die dood opgewek is (15).
  • Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens menslike maatstaf nie, selfs al het ons Christus voorheen so beoordeel (Jesus van Nasaret, die seun van Josef en Maria), nou beoordeel ons Hom nie meer so nie (16).
  • Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dis alles die werk van God, wat ons deur Christus met Homself versoen het (17 en 18).
  • Nou het Christus aan ons die bediening van die versoening toevertrou: Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou (18-19).
  • Ons tree dus op as gesante van Christus…(20)

Hieruit is dit duidelik dat daar aan die gemeente ‘n opdrag en ‘n roeping gegee is en dit is om versoening in die wêreld te bewerk. Dis nie net ‘n “geestelike” saak nie. Dit gaan hier oor versoening tussen ons en God wat deurslag vind in ons verhouding met mekaar en met alle mense: ons het die opdrag om ons te beywer vir versoening tussen mense.

Die verwysing na Matteus 5:13-16 (Julle is die sout vir die aarde; die lig vir die wêreld) beklemtoon die Christene se openbare getuienis-rol hierin. Christene moet hulle geloof in die openbaar demonstreer deur hulleself vir versoening te beywer en vrede te soek. Daardeur word hulle “kinders van God” genoem (Matteus 5:9).

Die ander skrifgedeeltes sluit aan by hierdie gedagte van Christene wat ‘n versoenende lewe moet lei – wat vanselfsprekend beteken dat ‘n gemeente mense op grond van hulle geloof bymekaar moet bring en hulle as die Volk van God deur “die leweskeppende Woord en Gees in staat stel om te leef in ‘n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring.” (verbatim aanhaling uit die tweede artikel van Belhar).

Met hierdie opdrag en roeping van die Christelike gemeenskap (gemeente/kerk) helder en duidelik, kom die waarskuwing dat die Christelike versoeningsboodskap ongeloofwaardig gemaak word “in ‘n land wat op Christelikheid aanspraak maak, maar waarin die gedwonge skeiding van mense op rassegrondslag onderlinge vervreemding, haat en vyandskap bevorder en bestendig.” In geen onduidelike taal nie, word die teologiese regverdiging van ‘n beleid wat tot skeiding dwing, as ‘n dwaallering, as ‘n ideologie deur die tweede artikel van die Belydenis van Belhar veroordeel.

Dit is tog opvallend dat daar by hierdie artikel geen eksplisiete verwysing na die Ou Testament is nie. Daar is egter géén twyfel daaroor dat die tema van versoening óók ’n prominente tema in die Ou Testament is nie. Die plek waar versoening en vergiffenis beleef word, is veral in die godsdienstige handelinge van Israel. Daar is by sommige Ou-Testamentiese kenners die oortuiging dat Levitikus die sentrum of middelpunt van die Pentateug (eerste vyf boeke van die OT) vorm. Levitikus 16 is die hoofstuk wat by uitstek oor versoening handel en gee die reëlings vir die Groot Versoendag. Dit is ’n buitengewone belangrike geleentheid wat net een keer per jaar plaasvind. Die groot detail van reëlings wat gegee word, is ’n aanduiding van die erns waarmee sonde en daarmee saam ook die noodsaak van versoening beskou word.

Die ritueel van versoening is gerig op die behoud van mense. Die diere wat geoffer word, geld as plaasvervangers vir mense. Die sonde van mense word oorgedra op die sondebok. Daarom speel bloed so ’n belangrike rol by die offers van die Ou Testament. Bloed word gesien as die setel en draer van lewe. Die bloed van die diere wat geoffer word, verteenwoordig dus eintlik die lewe van die volk vir wie daar geoffer word. Uiteindelik is die hele ritueel van versoening met al sy spesifieke bepalings gerig op die herstel van die verhouding tussen God en sy volk. Die doel van versoening is die herstel van die verhouding tussen God en mens.

Versoening tussen mense is egter ook ’n belangrike tema in die Ou Testament. Dit val op hoeveel van die bepalings in die Pentateug gerig is op die herstel van goeie verhoudings tussen mense. Die Tora (wet) bind Israel aan die Here (Jahwe) deur (middel van) hulle liefde vir God en hulle liefde vir mekaar (die naaste). Genesis 33 dra die bekende versoeningsverhaal van die herontmoeting van Jakob en Esau, die tweeling wat in onenigheid uit mekaar is, maar wie se verhouding herstel word. Groot dele van die wysheidsliteratuur handel ook oor die handhaaf en die herstel van verhoudings tussen mense, terwyl die leer van die leraars van wysheid daarop gerig is om Israel te leer om met grasie en eerbied teenoor die medemens op te tree.

Dit is daarom geen wonder nie dat die Belydenis van Belhar hierdie artikel afsluit deur, op grond van die Bybel, enige leer te verwerp wat “in die naam van die evangelie, of die wil van God, die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur in so ‘n situasie sanksioneer en daardeur die bediening en belewing van versoening in Christus by voorbaat belemmer en van krag beroof.”

1.4   Die Derde Artikel

In die derde artikel, wat handel oor geregtigheid, word die enigste vier verwysings na die Ou Testament in die Belydenis van Belhar aangetref: Deuteronomium 32:4, Jesaja 1:16-17, Psalm 146 en Amos 5. Die konsep van “geregtigheid” is egter deurgaans in die Ou en Nuwe Testament onderliggend aan hoe God mense beskou – en daarom oor hoe hulle mekaar ook behoort te beskou.

Byvoorbeeld, in die Ou Testamentiese wetgewing word die beskerming van die regte van die magteloses en verontregtes in die samelewing op ‘n verskeidenheid van maniere aan die orde gestel. Dit geld onder andere die wette oor die Sabbat en die Jubeljaar (Eksodus 23:10-12; Levitikus 25:1-55), oor die betaal van tiendes (Deuteronomium 4:28-29; 26:12), oor die heffing van rente (Eksodus 22:25), oor die versorging en beskerming van armes (Eksodus 23:6; Levitikus 19:9-10), oor die beskerming van die regte van weduwees en wese (Eksodus 22:22-24) en die beskerming van vreemdelinge (Eksodus 23:9; Levitikus 19:33-34). Deuteronomium 32:4 is die teksvers wat aangehaal word uit die sogenaamde Lied van Moses as deel van Moses se laaste woorde aan die Israeliete. Kerk en Samelewing (die aktuele dokument van die NG Kerk wat in 1986 se Algemene Sinode aanvaar is) verklaar in dié verband “dat die Bybelse ‘reg’ en ‘geregtigheid’ in ‘n hoë mate -alhoewel beslis nie uitsluitlik nie – gerig is op die weerloses in die geloofsgemeenskap, op hulle wat nie die middele het om hulleself te handhaaf nie… Dat veral aan hierdie mense ‘reg’ moet geskied, is vir die ware Israeliet net so vanselfsprekend as om sy klere aan te trek” (KES:22).

En verder: In die verhaal van die Uittog van Israel uit Egipte word die reddingsdaad van God in verband gebring met sy ontferming oor mense wat in ellende verkeer (Eksodus 2:23-25; 3:7-10). Dieselfde gedagte kom ook voor in ander reddings-verhale soos byvoorbeeld die van Hagar en Ismael (Genesis 16:13; 21:17).

Ander teksverse uit die Ou Testament waarna in die Belydenis van Belhar verwys word, is Amos 5 en Jesaja 1:16-17. Die twee teksverse, saam met talle teksverse in die Ou Testament (Jesaja 58:1-12; Hosea 4:1-3; Miga 2-4; Sagaria 7:7-10; Maleagi 3:5), word beskou as die corpus propheticum (die groep tekste wat die kern vorm van die profetiese literatuur) waarin God se sorg en besorgdheid oor weerlose en kwesbare mense in die samelewing uitgedruk word en daarmee saam die eis tot geregtigheid in die samelewing beklemtoon word. Hierdie aksent in die profetiese literatuur val nie uit die lug nie, is nie sommer maar net toevallig nie. Dit kom tot uitdrukking binne ‘n konteks van fisiese verdrukking, van die aantasting van mense se menswaardigheid en is daarom diep ingebed in die Bybelse geskrifte en word verstaan as die Here se verlossing van sy volk binne – en uit – hierdie haglike omstandighede. Dit is immers die Here (Jahwe) wat die ellende van sy volk gesien en hulle lyding ter harte geneem het (Eksodus 3:7-8) en toe reddend ingegryp het.

Ook die Psalms besing God as die Een wat Hom ontferm oor die hulpeloses. In die Belydenis van Belhar word slegs verwys na Ps 146, maar dit vorm deel van die totale Psalmboek waarin die tema van reg en geregtigheid deurlopend genoem word (byvoorbeeld Ps 10:9-14; 12:6,37:14, 17-19; 72:1-4, 12-14;82:3-5; 109:30-31; 116:6; 140:13). Psalm 72 is byvoorbeeld ‘n gebed waarin daar gevra word dat God die koning sal leer om reg te regeer. In hierdie verband word die verantwoordelikheid van die koning spesifiek daaraan verbind word om “aan die verdruktes reg (te) laat geskied” (vs 2), om “die arme (te) red wat om hulp roep, die verdrukte en die wat geen helper het nie” (vs 12) en om hom “oor die swakke en die behoeftige (te) ontferm, die lewens van die arm mense te beskerm” (vs 13). Hierdie Psalm is later as ‘n beskrywing van die Messiaanse koning van die toekoms geïnterpreteer. In Psalm 146 word die aspekte van God se trou en grootheid in verband gebring met sy ontferming oor verdruktes, hongeriges en gevangenes (vs 7), oor blindes en diegene wat bedruk is (vs 8), oor vreemdelinge, weeskinders en weduwees (vs 9). Dit alles dien vir die skrywer as bewys dat die Here vir altyd regeer en derhalwe geprys moet word (vs 10). Psalm 146 is ’n kragtige woord wat duidelik sê dat die God wat die hemel en die aarde gemaak het Hom oor verdrukte, honger, gevange en blinde mense ontferm.

Die Belydenis van Belhar sou ook kon verwys na tekste uit die wysheidsliteratuur aangesien dié korpus van literatuur ook bekend is vir die aandag aan weerloses en hulpbehoewendes in die samelewing. Wanneer die Belydenis van Belhar dus stel dat God in ‘n “wêreld vol onreg en vyandskap op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is en dat Hy sy kerk roep om hom hierin na te volg” is dit hoegenaamd nie ’n oordrywing of skeefgetrekte waarheid nie. Dit is selfs nie maar een van vele aksente in die Ou Testamentiese openbaring van God nie. Dit behoort tot die wese van God en sy handeling met sy skepping: tot die wese van God se beskouing oor mense.

Dis ook verder interessant dat hierdie gedagtegang sterk ooreenstem met Kerk en Samelewing (byvoorbeeld par 176 en 177) waarin gestel word dat die “God verleende waardigheid van elke mens impliseer…dat alle reëlings en praktyke wat die menslike waardigheid van persone of groepe in die samelewing aantas, vir die gelowige onaanvaarbaar is.”

Dis teen hierdie agtergrond dat die Nuwe Testament se beklemtoning van die menswaardigheid van alle mense op talle maniere aan die orde gestel word – deur Jesus se woorde en optrede, maar ook deur die skrywes van Paulus en die Apostels aan gemeentes.

In Lukas 4:16-30 lees ons dan ook dat Jesus se eerste beskrewe preek in die sinagoge in Nasaret juis hieroor aanstoot gegee het. Ons lees dat Jesus op die sabbatdag uit die gemeente opgestaan het om uit die Skrif voor te lees. Die lesing het gekom uit Jesaja 61:1-2; 58:6 wat in Lukas soos volg lui: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Vir die aanwesiges, afstammelinge uit die Israeliete, moes dit duidelik wees dat dit hier nie oor ‘n “geestelike” saak gegaan het nie. Dit het onder meer oor goeie nuus aan armes gegaan. Dit het ook oor die belofte van vryheid vir verdruktes gegaan (die verwysing na die Israeliete se ontvoering uit hulle geboorteland as slawe in Persië is duidelik uit hierdie aanhaling). Hierdie was ‘n politieke aankondiging. Voordat die gemeente dit so verstaan het, was hulle gelukkig met Jesus se woorde, maar toe Hy na die weduwee van Sarfat in Sidon verwys waarheen die profeet Elia eerder gegaan het as na die weduwees in Israel – en Hy verwys na Naäman die Siriër wat eerder genees is as die baie melaatses in Israel, toe het die gemeente woedend geword, Hom uit die sinagoge en dorp uitgejaag en klippe opgetel om Hom dood te gooi.

Al gou het Jesus bekend gestaan as een wat saam met tollenaars en sondaars eet. ‘n Vraat en ‘n wynsuiper – omdat Hy Homself geassosieer het met die siekes, die verwerptes, diegene op wie neergekyk is deur die samelewing: Hy’t saam met hulle geëet en by hulle tuisgegaan.

Meer helder kan dit sekerlik ook nie gestel word nie, as in Jakobus (wat ook deur Belhar aangedui word) waar die skrywer in 1:27 sê: “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.” En dan volg hoofstuk 2 met die voorbeeld van die houding teenoor arm mense deur rykes en word Christene gewaarsku om niemand na die uiterlike te beoordeel nie, want “Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?” (5)

Enige moontlike kritiek wat teen die Belydenis van Belhar uitgespreek sou word, dat hierdie belydenis in Artikel 4 ‘n “sosiale evangelie” is, of politiek predik, of met ‘n triviale saak te doen het, of dat dit ‘n wanvoorstelling is dat God kant sou kies vir sekere mense (armes en verontregtes), is heeltemal ongegrond. Dieselfde kritiek moet dan ook teenoor die Bybel uitgespreek word. Dis daarom geen wonder nie dat as ‘n mens ‘n vergelyking sou tref tussen Kerk en Samelewing en Die Belydenis van Belhar, dat mens getref word deur die gelykluidende formulering van beide geskrifte: So stel Kerk en Samelewing dit: “Wanneer God se volk vir die ‘reg’ van die verontregte intree, volg hulle die voorbeeld van God self. Hy is immers by uitnemendheid die Een wat vir die saak van die noodlydende en verontregte intree.”(KES par 149)

So word die Belydenis van Belhar se veroordeling van die teologiese legitimering van apartheid as “ideologie en dwaalleer”, ook in KES aangetref waar die NGK sy eie optrede bely as “versuim”, “ernstige dwaling” en “in stryd met die Bybel”. Daarmee het die NGK met KES in feite presies dieselfde gesê as die NGSK met die status confessionis in 1982, naamlik dat die teologiese regverdiging van apartheid in stryd met die evangelie is en as dwaalleer verwerp moet word.

1.5   Die Slotparagraaf

In die slotparagraaf spreek die Belydenis van Belhar die oortuiging uit dat die kerk geroep word om in gehoorsaamheid aan die Here as sy enigste Hoof, Hom te volg. Selfs al sou dit beteken dat “die owerhede en verordeninge van mense daarteen wees en al sou straf en lyding daaraan verbonde wees.”

Dit word gedoen na aanleiding van Handelinge 5:28-33, die woorde van Petrus en die ander apostels, toe hulle belet was om “die mense in hierdie Naam te leer” en so van Jesus se lewe en werk te vertel: “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!” Die uiteinde hiervan was dat hulle, nadat hulle gestraf was met slae, verder verbied was “om in die Naam van Jesus te praat.”

Dan lees ons: “Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly. En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.” (41-42)

Die Belydenis van Belhar eindig dus met die oortuiging, net soos die Vroeëre Kerk in die Bybelse tyd en daarna, dat, wanneer die waarheid van die evangelie van Jesus Christus op die spel is, hulle hulself daartoe sal verbind om dit nie te verloën nie, al sou dit ook beteken dat hulle die gevolge daarvan sal dra, selfs al is dit om daarvoor te ly.

Ben du Toit

Trackback from your site.

Comments (1)

Leave a comment

%d bloggers like this: